Local sportSport

Veerpyltjiespelers word gesoek

Die Ekurhuleni Oos Veerpyltjie Assosiasie (Ekurhuleni East Darts Association) wil graag hoor van mense wat belangstel om by dié organisasie aan te sluit.

“Veerpyltjies is ’n sport wat deur mans sowel as vroue en selfs jonger kinders beoefen kan word,” het die skakelbeampte van die assosiasie, Danie Binneman gesê.

“Mense wat wil leer om die sport te beoefen, of mense wat reeds goed kan speel en by die assosiasie wil aansluit, is baie welkom,” het Binneman bygevoeg.

Die spelers kom gereeld byeen by die Kingsway Klub, wat in Kingswaylaan geleë is.

“Die sport word op ’n baie professionele vlak genader en gee aan spelers die kans om op provinsiale sowel as internasionale vlak deel te neem,” het Binneman gesê.

“Ons spog ook met ’n paar Springbokke in ons midde, wat mans en vroue insluit, asook ons nuutse junior Springbok, Arlindo du Toit.”

Ope kompetisies word op Donderdagaande gespeel en mans, vroue sowel as juniors kan hiervoor inskryf.

Die ‘masters’ byeenkomste vind op Dinsdagaande plaas, wanneer spelers, wat ouer as 45 jaar is, deelneem.

“Saterdae neem die lede deel aan ope toernooie waar spelers hulself kan opbou om te kwalifiseer vir die SA Kampioenskappe,” het Binneman verduidelik.

Die SA kampioenskappe vind vanjaar in Bloemfontein plaas.

“Ons besef dat die huidige ekonomiese toestand ’n las op vele mense se skouers plaas en daar nie altyd fondse vir ontspanning is nie.”

“Daarom poog ons werklik om die kostes verbonde aan die sport so laag as moontlik te hou,” het Binneman gesê.

Mense wat wil aansluit of meer inligting verlang kan vir die assosiasie president, Hans Viljoen, by 076 913 1666 of vir Binneman by 082 469 5996 skakel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button