Trotse jong bloed bruis op die baan

Volop aksie, adrenalien en meesters-bestuursvernuf.

As jy een van vele besoekers aan The Rock Raceway die pas afgelope Saterdag was, het jy beslis deel gehad aan hierdie ovaalbaan-skouspel enig in sy aard.

Plaaslike renjaers het in groot getalle opgeruk om teen die land en ook die wêreld se bestes mee te ding om daardie gesogte Womza SA titel in hul onderskeie klasse.

Shane Murphy, Ierse renjaer en pas gekroonde wêreldkampioen in die hotrod klas, het ‘n tikkie internasionale smaak aan die byeenkoms verleen.

Die groot wenners van die aand was egter plaaslike jong talent, wat bewys het groot gif kom in klein botteltjies.

In die V8 Lexus/Flexi klas het die 19-jarige paartjie, sjarmante Rieckerd Louwrens en buksie Chanté Wiese, getoon dat hulle nie ‘n tree terugstaan nie vir die hardebaarde in hierdie klas.

Van meet af aan was dit duidelik dat nie een van die jaers bereid was om sonder baklei ‘n plek af te staan nie, en het Rieckerd sy plek vanaf 13de op die wegspringrooster oopgeveg na vyfde in die eerste wedren.

In die tweede wedren het Wiese haar hart uitgery en haar plek met leeumoed verdedig onder die voorste jaers, terwyl Louwrens ‘n goeie tweede plek vasgemaak het.

Die finale wedren van die aand in hierdie klas het almal in afwagting gehad – met die spreekwoordelike “close racing” van die eerste twee wedrenne sou die finaal verseker nie teleurstel nie.

Wegspringposisies vir die finale wedren is bepaal volgens punte wat in die eerste twee wedrenne behaal is, en Louwrens spring toe in die tweede plek weg.

Van die oomblik dat die groen vlag geval het was dit voet in die hoek, ‘n harde wedren waarin elke greintjie bestuursvernuf van die jaers, tesame met hul motors se vermoeëns, tot die uiterste getoets is.

Louwrens steek die eindvlag verby in ‘n baie welverdiende tweede plek en verdien daarmee die title van Womza SA2 in hierdie uiters mededingende klas.

Wiese eindig in haar eerste SA kampioenskap-deelname in die agtste plek en bewys so dat sy beslis mee gereken moet word in die toekoms.

* Daar was ook nog ‘n plaaslike jong renjaer, Dyllon le Roux (7), wie uitgestaan het.

Le Roux het by die kampioenskappe in die “Ninja Midgetklas” (60cc) gewen en is nou die jongste ZA1 nasionale kampioen op die ovaalbaan.

Hy het dankie gesê aan sy pa Pieter en oupa Piet vir hulle ondersteuning en hulp met sy midget.

Exit mobile version