Ankers blink uit op Cravenweek 7’s

Die Valke se o-18 Cravenweek 7's-span het verlede Dinsdag vir groot opwinding gesorg, toe hulle as die wenners van die Nasionale 7's toernooi gekroon is.

Vier van die 12 spelers in die span is van Hoërskool Die Anker afkomstig.

Hulle is Ruan van Vuuren, Cameron Rooi, Tiaan Lotter en Gerrie Labuschagne, wat ook die span se kaptein was.

Met die groepwedstryde, verlede Maandag, het die Valkespan maar klei getrap en teen die Bulle verloor.

In die wedstryd teen die Luiperds het hulle egter gelykop gespeel.

In die laaste groepwedstryd, teen die Griekwas, moes die span met meer as 48 punte wen, om te kwalifiseer vir die uitspeelwedstryde.

Die span het begin ritme kry en het die Griekwas met ‘n oortuigende 53-0 geklop.

Al vier Die Anker se spelers het in hierdie wedstryd ‘n drie gedruk en Gerrie het twee keer agter die pale gaan kuier.

In die uitspele het die Valke eerste met die Cheetahs afgereken en, in die halffinaal, het hulle die kans gekry om vir die Bulle te wys hoe goed hulle regtig is.

Die span het gespeel asof daar net een span op die veld was en het maklik met 35-5 gewen.

In die finaaal was die Valke teen rustyd met 17-0 agter en moes hard terugveg teen ‘n baie goeie span van SWD, waarin drie seuns, wat deel van die o-18 Springbok 7’s-span was, gespeel.

“Die die groot verskil in die tweede helfte was verseker die vier Ankermanne. Hulle het die een drie na die ander onder die pale gaan druk en met goeie, rotsvaste verdediging die wedstryd vir die Valke met 22-17 gewen,” het Rocky Truter, hulle afrigter by die skool, gesê.

Exit mobile version