Hy pak die bul by die horings

Die uitdagende omstandighede waarin 'n uitblinker rugbyspeler van Hoërskool die Anker grootgeword het, het nog nooit veroorsaak dat hy terug staan vir enigiets nie, en sy prestasies op die rugbyveld is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan.

Banele Jafta (o-16) het vanjaar vir die Valke Grant Khomo-span gespeel en was, volgens inligting, een van die sterspelers tydens dié week.

Banele het in elke wedstryd op die toer ‘n drie gedruk, teen onderskeidelik die Lions, Cheetahs en die Sharks.

Die tiener se prestasies is inderdaad merkwaardig wanneer ‘n mens in ag neem dat hy geen normale of bevoorregte jong kinderlewe gehad het nie. Hy is ook tans ‘n inwoner van die East Rand Children’s Haven.

“Ek het maar swaar grootgeword maar die regte mense het oor my pad gekom en vandag kan ek ook, soos enige ander jong mens, presteer en my drome uitleef,” het Banele gesê.

Hy gee nie om dat mense weet dat hy al vir meer as ‘n jaar in ‘n kinderhuis woon nie.

Die vriendelike leerder het sy vroeë kinderdae saam met ‘n ma, wat onder baie moeilike omstandighede vir hom en haar ander kinders probeer sorg het, deurgebring.

Die welsyn het uiteindelik ingegryp toe hulle vir Banele en sy ma by die Brakpan Spoorwegstasie gevind het, waar sy gebly het, met geen skuiling vir haar en haar kinders nie.

Daarna het Banela, sy ma en sy een broer ‘n heenkome by ‘n plek in Brenthurst gevind, waar hulle vir vier jaar gewoon het voordat sy in 2011 oorlede is.

Alhoewel sy ma baie arm was, was sy ‘n goeie vrou wat binne haar vermoë alles vir haar kinders gedoen het.

Haar afsterwe was vir Banela ‘n groot terugslag.

Daar was geen ander familie nie en hy het noodgedwonge vir die volgende ses maande alleen in die houthut, waar hy voorheen saam met sy ma gewoon het, gebly.

Die deur kon skaars toe en wanneer hy soggens na Die Anker gestap het, het hy dit met bakstene toegepak.

Dit het hom egter nooit in so ‘n mate geaffekteer dat hy op enige stadium nie meer skool toe wou gaan nie.

Hy het elke dag met durf aangepak, dikwels sonder om te eet. Saans het hy teruggekeer na sy houthut en self sy skoolklere gewas.

Onderwysers van die skool, wat van sy omstandighede te hore gekom het, het kos aangedra, maar later sy situasie onder die aandag van maatskaplike dienste gebring.

Nadat ondersoek ingestel is, is hy in die East Rand Children’s Haven opgeneem.

Kinders wat hier woon mag normaalweg nie geïndentifiseer word nie, maar Maxie Smook, ‘n maatskaplike werker wat deeltyds daar uithelp, het spesiale toestemming van die hooflandros van Brakpan verkry om die seun se ongewone verhaal van uithouvermoë en sukses te kan vertel.

“Rugby is my lewe en ek geniet dit baie om die spel te speel,” het hy gesê.

“Die geleentheid om vir die Valke Grant Khomo-span te kon speel was fantasties.

“Ek weet ek het daar gekom omdat ek my hart en siel in my spel sit.”

Banela is selfs na die toernooi as die beste flank in sy ouderdomsgroep aangewys.

Rocky Truter, sportbestuurder by Die Anker, het gesê dat Banela wel flank speel, maar dat hy ook ‘n briljante hakker sal maak.

“Ons skool is baie trots op sy prestasies,” het Truter gesê.

Die leerder se raad aan ander is om in hulself te glo.

“Dit is wat ek doen. As ‘n mens vertroue in jouself het sal jy sukses kan behaal,” het hy bygevoeg.

Wanneer hy nie besig is om punte op die rugbyveld in te ryg nie, geniet

hy dit om vis te vang en fiks te bly deur die skool se gymnasium te besoek.

Sy gunsteling span is die Blou Bulle en natuurlik droom hy daarvan om eendag die groen en goud oor sy kop te trek.

Exit mobile version