Die algemene toestand van die dorp is skokkend

Ons was werklikwaar trotse inwoners van die dorp maar ongelukkig is dit nie meer die geval nie.

Inwoner skryf per e-pos:

Met verwysing na die brief in die Herald van 20 Oktober (Talle probleme in die dorp pla geruime tyd).

Net soos die skrywer van die interessante brief, woon ek en my vrou ook vir baie jare (43 jaar om presies te wees) in die dorp.

Ons het die mooi van die dorp beleef. Toe die paaie, die sypaadjies en die dorp nog ’n plesier was om te gebruik.

Ons was werklikwaar trotse inwoners van die dorp maar ongelukkig is dit nie meer die geval nie.

Voor my huis in Brakpan-sentraal is daar ’n gat in die pad wat al vir ’n jaar net so gelaat word.

Dit is ook nie net dié gat wat my pla nie maar die algemene toestand van die dorp se paaie is skokkend.

Die verval van die sentrale sakegebied is kommerwekkend en ek kan nie help om ’n mate van woede in my te voel nie.

Ek kan nie help om te wonder wat van die pragtige gebou, waarin die biblioteek vir jare gehuisves was, gaan word nie.

Kort voor lank sal dit seker stuk-stuk geplunder en weggedra word, waarna dit deur haweloses, waarvan daar oorgenoeg in die dorp is, beset sal word.

Die oogseer wat ’n mens begroet wanneer jy die dorp van Benoni af inkom word by die dag ’n groter nes. (Ek verwys natuurlik na “Plastic City”).

Nou is daar ook die plakkers langs die Lokasieweg om mee rekenskap te hou.

Ek en my vrou is te oud om nou weer op ’n ander plek nes te skop so ons het nie ’n keuse as om hier te bly en maar te hoop vir die beste nie.

Ek wil ook net, soos die skrywer van die brief waarna ek bo verwys, vir organisasies soos AfriForum bedank vir die moeite wat hulle nog doen om te probeer red wat daar te redde is.

Lees ook:

 Town’s pavements are an eyesore

AfriForum se visier steeds op die begraafplaas

Afriforum lays criminal charges against city manager for Brakpan pollution

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version