Vullis wat staan is broeiplek vir stank en vlieë

"Die asblik stink nou al so van al die afval wat nou al verrot het; dit is ‘n broeiplek vir vlieë en dit lok ook muise."

Ontevrede Brakpan inwoner skryf per e-pos:

Kan iemand ons, as inwoners van Brakpan, asseblief inlig waarom die vullis die afgelope vier weke nie verwyder is nie?

Ek en my bure sit elke week getrou ons vullisdromme uit, nog voor die voorgeskrewe tyd.

Die “snuffelaars” maak gereeld hulle opwagting om deur die blikke te krap, maar ons wag tevergeefs vir die trok om die vullis te kom verwyder.

Die asblik stink nou al so van al die afval wat nou al verrot het; dit is ‘n broeiplek vir vlieë en dit lok ook muise.

Niemand het nog enigiets vir ons gesê oor waarom daar nie dienslewering is nie.

Ek is ‘n pensioenaris en besit nie ‘n bakkie of sleepwa waarmee ek self die vullisdromme kan gaan wegry nie.

Elke maand word daar ongeveer R200 aan die Raad betaal vir die vullisverwydering. Gaan die Raad ons rekening hierdie maand krediteer daarmee, omdat daar nie vir die vier weke vullis verwyder is nie?

Orals in die dorp staan die vullisdromme vir dae aaneen in die strate sonder dat dit leeggemaak word.

Ons is uitgelewer aan die genade van die Raad wat nie hulle plig nakom nie.

Kan iemand uitsluitsel gee oor wanneer die situasie opgelos gaan word, of vir hoe lank ons nog die stank moet verduur?

Redakteur se nota: Die Herald het kommentaar ontvang van die Metro (lees die kommentaar hier).

Exit mobile version