Waentjies in die pad is ‘n gevaar

"Die mense is nie net ‘n gevaar vir motoriste nie, maar ook vir hulself."

Alet van Greunen, Brenthurst, skryf:

Ek het groot begrip vir mense wat sukkel om ‘n bestaan te maak. Die mense wat in ons asblikke grou en plastiekbotels en ander goed bymekaar maak probeer ten minste ‘n eerlike bestaan voer.

Ek het nie ‘n probleem daarmee dat hulle goed uit my asblik uithaal nie.

Wat my wel baie kwaad maak is die feit dat hulle deesdae die strate oorneem.

Baie van hulle het vir hulle waentjies geprakseer om die swaar sakke te sleep.

Uit die aard van die saak kan hulle nie die waentjies op die gras of op sypaadjies sleep nie, so nou loop hulle maar in die pad. Ek moes nou die oggend in Prince Georgelaan uitswaai vir so ‘n persoon en ‘n ander kar het amper in my vasgery.

Die mense is nie net ‘n gevaar vir motoriste nie, maar ook vir hulself. As ek of ‘n ander motoris een van hulle omry, of dalk doodry, gaan ons in die moeilikheid wees.

Ek sê weereens dat ek groot bewondering het vir die mense wat ‘n lewe probeer maak, maar hulle moet nie met hulle waentjies in besige strate wees nie.

Lees ook:

Bome op sypaadjie versper sig

Orange-light driver flouts the rules

Asblik in oprit kan ongeluk veroorsaak

Exit mobile version