Editor's choiceLettersOpinion

Arm ouers word nie gekies om op skole se beheerliggaam te dien nie

Hartseer ouer skryf per e-pos: Dit gebeur mos met baie mense. Ek stap vasbeslote by die skool in. Ek sal maar moet vra vir ’n subsidie vir my kinders se skoolfonds.

Ek word vriendelik gegroet, totdat hulle hoor waarom ek daar is, dan verander hulle lyftaal.

Ek is mos onder “debt review” so ek sal mos die skoolgelde alles kan betaal, maar hulle weet nie dat die 2016 skoolgelde nie gedek word nie, net die agterstallige skoolgelde. Ek probeer verduidelik.

“Gaan kry al jou dokumente bymekaar en kom sê ons wat jy ’n maand kan betaal. Jy weet dat boekgelde en vakgelde betaal moet word. Jy kan nie afslag op dit kry nie,” word daar vriendelik gesê, maar dit voel nie vir my eg nie.

Ek voel so vernederd. Dis nie wat ek vir myself beplan het nie, ek het nie ’n hand in die ekonomie gehad nie.

Tot my skok is die huur van die boeke R500 vir die jaar, waar dit verlede jaar R350 was en die vakgelde R450 per vak.

Nou wonder ek liewe beheerliggaamlede, as jy om jou rondkyk sien jy enige iemand wat op die raad dien wat in die aande wonder wat hy vir sy kinders gaan gee om te eet? Of weet dat sy môre haar kinders sonder brood skool toe moet stuur?

Arm ouers word nie gekies vir die beheerliggaam nie, daarom raak ons nie betrokke nie. Ons stel vreeslik baie in ons kinders se opvoeding belang, maar voel onwelkom as ons wel by ’n vergadering opdaag.

Nou vra ek: waar is die onderwysdepartement om seker te maak dat my kind se reg tot opvoeding nie geskend word nie? Is dit nie hulle verantwoordelikheid om die skole te monitor nie?

Of is die meeste skole privaat, sonder dat ons as ouers ingelig is daarvan?

Ek is een van die duisende hartseer ouers van Suid-Afrika.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button