Metro moet publiek inlig

Anton Bruwer van Dalpark skryf:

Ek verwys na die berig op die voorblad van die Herald van 14 Maart (Inwoners is woedend oor kragonderbrekings).

Ek kan die beurtkrag, wat ons vir een dag, as gevolg van Eskom se swak beplanning ervaar het, aanvaar, alhoewel dit ‘n bitter pil is om te sluk.

Maar die feit dat ons deesdae vir ure aangeen en vir opeenvolgende dae sonder krag sit, as gevolg van probleme by die Van Eck substasie, gaan my verstand te bowe.

Ek verstaan dat daar probleme kan ontstaan, maar ek glo dat dit alles te wyte is aan instandhoudingswerk wat nie gereeld en op ‘n volgehoue basis gedoen word nie.

Ek voel ook dat die metro die publiek op ‘n beter wyse op hoogte kan hou van hoe lank die kragonderbrekings of herstelproses gaan duur.

Dit is uiters ongerieflik om sonder elektrisiteit te wees. Ja, ek klink seker soos ‘n bevoorregte persoon, maar ek betaal vir die voorreg om krag te hê.

Ek kan maar net hoop dat die afgelope paar dae nie ‘n voorbode gaan wees vir die komende winter nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version