Dronk bure loop kaal, vloek en skel

"Bekommerde buurman," Dalview, skryf:

Ons het, deur die genade van die Here, ‘n huis in Buxtonlaan, Dalview, ontvang, maar deur die toedoen van Satan het ons bure later hier langs ons ingetrek; mense wat gedurig dronk is en baie lawaai.

Hierdie mense raas van vroeg-aand af tot die volgende oggend om 5vm. Hieroor was die polisie reeds ‘n paar keer uitgeroep; wat eenmaal katastrofiese gevolge vir hulle ingehou het.

Die bure het selfs een nag, vier van hulle, kaal in die straat geparadeer en die polisie was ook getrakteer op ‘n kaal manspersoon, wat in die deur, wydsbeen stelling ingeneem het. Daarna het hulle die gasvrydheid van die staat geniet teen ‘n redelike koste.

Die groot probleem, wat al ‘n hele ruk aangaan, is die feit dat beide man, vrou en besoekende vriende almal aanhou swets en vloek soos matrose.

Aangesien hulle almal meestal besope is, bestaan die woordeskat net uit woorde van onder dames se rokke uit.

Verder is vierletter woorde die enigste grammatika wat hulle blykbaar ken.

Hierdie mense is vir ons, ons besoekers en almal wat by hulle huis verby loop ‘n groot verleentheid, want hulle gaan dag en nag te kere.

Jou ore tuit lettelik van die vloek- en skelwoorde wat by hul monde uitkom, soos ‘n AK-47 wat automaties afgevuur word.

Is daar iets wat ek kan doen om hierdie mense tot stilswye te bring, want hulle het alle beskaafde standaarde oorboord gegooi en nou word ons Christelike waardes geheel en al deur hulle misbruik en afgetakel?

Ek dink die woord wat hulle dalk moet aanleer is om nie te “abuse” nie, want dit sal vir hulle beslis ‘n nuwe woord wees.

Van “abuse” en misbruik gepraat, op Sondag (9 Februarie) was daar twee klein kindertjies in die huis van hierdie mense teenwoordig.

Een van hulle het groot geword by ons bure en sy moet nou ongeveer agt jaar oud wees, maar die seuntjie is na my skatting tussen 10 en 18 maande oud.

Wat hierdie kinders se uiteindelike opvoeding gaan wees hoef niemand te raai nie, want die woorde wat hulle heeldag oor bestaan uit F, P, K en D (wat almal vierletter woorde is).

Op hierdie klein seuntjie is daar gedurig hardop geskreeu en gevloek, tot laat in die nag; daarvoor het my gade al ‘n keer die polisie uitgeroep, maar nog is dit het einde niet!

Exit mobile version