BlogsEditor's noteOpinion

In die kollig

Trippe Trappe Trone vier vanjaar sy 18de bestaansjaar.

Daleen Richter (47) is die eienaar van Trippe Trappe Trone Kleuterskool. Sy is getroud met Wessel (46) en die egpaar, wat in Dalview woon, het ’n seun, Alrico (15).

• Trippe Trappe Trone vier vanjaar sy 18de bestaansjaar. Hoe lank is jy al betrokke by die skool?

Dit is so en wat ’n mylpaal. Ons pragtige skool is in 2000 deur my moeder, Lorna Prinsloo, gestig. Ek het my BA(Ed) deur Tukkies verwerf en in 2005 as lektor by Springs Kollege bedank en by Trappies betrokke geraak. Dis nou 13 jaar.

• Die skool en die kinders lê jou na aan die hart. Vertel meer.

Ek het baie passies in die lewe, maar kinders het nog altyd kop bo water uitgestaan. Veral opvoeding en onderrig. Ek dink nie almal besef elke dag hoe belangrik ’n kind se vormingsjare is nie, ook nie watter belangrike rol ’n kleuterskool by ’n baba, peuter of kleuter speel nie. Dis hier waar die fondament van jou menswees vasgelê word. Dis ’n voorreg om te help vorm aan hierdie klein mensies en wanneer hul as grootmense die wêreld betree weet jy, jy het deel daaraan gehad.

• As jy terugkyk oor die jare, wat staan uit as ’n hoogtepunt?

Elke dag by hierdie skool is in werklikheid ’n hoogtepunt op sig self, want jy weet nooit wat dit inhou nie. As ek moet uitsonder was dit ons kleuters se eerste optrede met ons jaarlikse konsert in die Springs Teater en die voorreg om die tweede perseel langs ons eerste perseel te kon koop om ons babasentrum oop te maak.

• Jy is ook ’n sakevrou van formaat, wat al talle toekennings vir Honey Fashion Accessories ontvang het. Hoe kry jy dit reg om jou besigheid en die kleuterskool te hanteer?

My man sê ek is soos ’n kraai, want alles wat blink is, wil ek hê. Honey is al 16 jaar deel van my lewe en ook hier is ek bevoorreg om die onderwyser in my te laat seëvier. Ek is ’n mentor en lei nuwe konsultante in ons bedryf op. Ek glo hoe meer jy doen, hoe meer kry jy gedoen. Ongelukkig is ek iemand wat nie toelaat dat ek faal in enigiets nie. Ek gee 110 persent as ek glo in dit wat ek doen. As God se seën en guns op jou lewe is sal jy suksesvol wees. Ek het ook ’n formidabele span wat agter my staan by Trippe Trappe Trone en met hul hulp, kennis en liefde het ons ’n wenresep.

Lees ook: 10 Signs your child is in a good school

• Wat is jou beste eienskappe?

Beginselvas, goeie motiveerder, lojaal, simpatiek en empaties.

• Wat maak jou op die plek kwaad?

Onregverdigheid, oneerlikheid, bevooroordeeldheid, en as ek nie my koppie tee in die aand kry nie.

• As jy net vyf besittings kan hou, wat sal dit wees en hoekom?

My Bybel want dit is my “life-line” en nog die eerste een wat my ouers 38 jaar terug vir my gekoop het. My “Shoxspin speaker”-musiek want dit is my uitlaatklep. My troupant want dit is die grootste belofte wat ek nog ooit gemaak het. My pille want ek is ’n RA-leier (Rumatoïde Artritis) en daarsonder kan ek nie beweeg nie. My handsak want die inhoud sal my oorlewing verseker.

• Wat doen jy wanneer jy nie besig is om te werk nie?

Ek is baie lief vir mense en kuier saam met die wat my na aan die hart lê. Ook lief om kreatiewe dinge doen, te maak en te verf. Ek luister musiek en lees ook graag.

• Jy woon al jare in Brakpan en het ook hier skool gegaan. Wat maak die dorp so spesiaal?

Eenmaal ’n Brakpanner, altyd een! Ons dorp en sy mense is enig in sy soort. Dis meer as ’n dorp. Dis ’n leefwyse.

• Waar hou jy graag vakansie?

Ek is gelukkig by enige plek waar ek tuis en ontspanne saam met my gesin voel. Die see sal altyd ’n spesiale bekoring vir my inhou.

• Is jy ’n goeie kok en wat sal jy voorsit vir goeie vriende?

Ek wil graag dink ek is ’n Masterchef. Baie lief vir kosmaak en onthaal. My “famous” beesstertpotjie of lekker lamskerrie met ’n druppel rooi wyn is ’n wenner.

• Waarvoor is jy vrek bang?

‘n Mot of ’n gogga-ding wat naby my ore verby vlieg laat my baie hoog spring.

Volg ons:

Instagram

Twitter

Facebook

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button