In die kollig

Ankia Pepler, wat vanjaar die hoofdogter van Hoërskool Die Anker was, is as die Leier van die jaar aangewys en het ook die top toekenning, naamlik Anker van die Jaar, tydens die skool se prysuitdeling ingepalm.

Sy woon saam met haar ouers, Hersel en Alda asook haar broer, Mandré (15) en pleegbroers Stephan (21) en André (17) Groenewaldt in Dalpark.

• As jy terugkyk op jou matriekjaar wat sou jy as ’n hoogtepunt uitsonder?

Definitief my matriekafskeid. Die revue was ook elke jaar vir my ’n hoogtepunt. Ek dink dit gaan ook die ding wees wat ek die meeste gaan mis na skool.

• Was daar ’n laagtepunt gedurende die jaar?

’n Oom van my, aan wie ek baie geheg was, is in Julie oorlede. Sy twee seuns het by ons kom bly en dit was nogal ’n groot aanpassing. Maar ek is baie lief vir hulle en dis lekker om nog twee boeties, wat my oppas, te hê.

• Hoe gaan dit met jou finale eksamen?

Dit gaan baie goed. Ek voel positief. Ek het hard geleer en hard gewerk.

• Wat gaan jy volgende jaar doen?

Ek het nog altyd ’n liefde vir tale en het na deeglike oorweging besluit dit is wat ek wil gaan swot. Ek het alreeds toelating by Tukkies gekry en trek Januarie in my woonstel in. Ek wil graag so ver as doktoraal in redigering of vertaling gaan.

• Jy is aangewys as die Anker van die Jaar, die top toekenning van die skool. Wat beteken dit vir jou?

Dit is ’n baie groot eer. Ek dink nie ek kan aan mense beskryf hoe trots ek is om deel te kon wees van Hoërskool Die Anker nie. Dit was al van graad agt af my droom om dié toekenning te ontvang omdat my ma ’n soortgelyke toekenning in haar matriekjaar gekry het. My oupa (Coenie Mouton) was betrokke by die samesmelting van Brakpan Tegnies en Hoërskool Hoogland, wat Die Anker geword het. Ons Mouton familiewapen verskyn op die Anker van die Jaar skild en is deur my oupa geskenk. Dit was vir my ’n hoogtepunt om my skoolloopbaan so te kon afsluit en te kon voortbou op my ma se voorbeeld.

• Jou ma, Alda het ’n soortgelyke toekenning ontvang in haar matriekjaar. Vertel meer?

My ma was ook hoofdogter van die Hoërskool Hoogland in 1991 en het die Hooglander van die jaar toekenning ontvang. Dit was ’n eer om in haar voetspore te volg. Sy het my so baie gehelp die jaar en my geleer hoe om alles te hanteer en ek is so dankbaar vir haar.

• Wat het vir jou uitgestaan van jou matriek afskeidsfunksie?

Soos elke meisie was dit die rok en die mooimaak! Ek was absoluut mal oor my rok en het vir die aand soos ’n regte prinses gevoel! Ek is ook een van drie meisies van my skool wat gekies is om deel van ‘n televisieprogram te wees “My Matriekafskeid”, wat in Oktober op die KykNet Via kanaal uitgesaai is. Dit was ’n wonderlike ervaring.

• Indien jy die geleentheid kry, sou jy Suid-Afrika verlaat om permanent in ’n ander land te gaan woon?

Glad nie. Ek is lief vir Suid-Afrika en wil nêrens anders woon nie. Ek sal graag die wêreld wil toer, veral Europa, maar ek sal altyd terugkom. Dis my land en alles en almal waarvoor ek lief is, is hier.

• Wat sal jou raad wees aan graad 11 leerders wat volgende jaar matriek skryf?

Leer van die begin af hard en moenie agter raak nie. Matriek verg baie harde werk en is nie speletjies nie. Daar is baie om te doen in ’n kort tydjie en dit verg baie toewyding. Maar geniet dit. Dis jou lekkerste jaar van skool. Raak betrokke by soveel moontlik geleenthede by die skool en maak baie herinneringe. Onthou ook: Jy gee jou bes en God doen die res.

• Waarsonder kan jy nie klaarkom nie?

My selfoon en definitief kos. Ek sou ook nie kon klaarkom sonder my familie nie. Ek is bitter lief vir hulle en sou nie wees waar ek vandag is sonder hulle nie. Hulle is my ondersteuningsnetwerk en glo in my.

 

Lees ook: Die Anker bied ‘n rugbykliniek aan

Die Anker stel nuwe departementshoofde aan

Dorp se skole verbied “fidget spinners”

 

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version