In die kollig

Leer ken Danie van der Westhuizen.

Danie van der Westhuizen is geen onbekende wat gereeld agter sy klanktoerusting, of met ’n mikrofoon in die hand, op die verhoog te sien is. Dié 38-jarige sanger het ’n groot droom van hom verwesenlik en stel vandag (Vrydag) sy eerste CD vry.

• Vertel meer van jou eerste CD.

My eerste CD, genaamd Boerseun, word vandag (Vrydag) vrygestel. Dit is ‘n oorspronklike CD en ek het al die liedjies self geskryf. Dit bestaan uit 12 snitte. Die CD sal eers bietjie later op die rak wees aangesien ek dit vir eers net by my optredes beskikbaar gaan stel.

• Hoe lank sing jy nou al?

Ek sing vir die afgelope vier jaar maar ek is al baie lank in die musiekbedryf.

• Wat doen jy wanneer jy nie musiek maak nie?

Ek verskaf klank by funksies en vir mede kunstenaars in die bedryf. Ek bestuur ook ’n besigheid wat te make het met sekuriteit.

• Saam met watter sanger sal jy graag ’n duet wil opneem en waarom?

Benice Borman, want ons het al ’n paar optredes saam in duet-vorm gedoen. Ons twee verstaan mekaar goed wanneer ons op die verhoog is.

• Watter tipe musiek is jou gunsteling?

Baie beslis Afrikaanse musiek.

• Noem ’n hoogtepunt wat jy die afgelope jaar beleef het?

Die tyd wat ek spandeer het in die studio saam Ernie Bates toe ons aan die album gewerk het. Dit staan baie beslis uit.

• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?

Steeds in die Afrikaanse musiekbedryf, want my hart is daarin. Ek glo ek sal meer CD’s, met baie meer oorspronklike liedjies, beskikbaar hê.

• Wie is jou rolmodel en hoekom?

Juanita du Plessis. Haar lewenshouding is ’n inspirasie.

• Wat is jou stokperdjies?

Spoed, spoed en spoed.

• Kan jy enige instrumente speel?

So raak-raak aan kitaar.

• Noem jou gunsteling plaaslike en internasionale sanger.

Internasionaal het ek geen gunsteling nie en plaaslik is dit Theuns Jordaan.

• Iets wat mense nie van jou weet nie.

Ek vat die lewe baie ernstig op.

• As jy vir ‘n dag lank enige persoon op aarde kon wees, wie sou dit wees en waarom?

Enigiemand wat baie, baie geld het. Ek sal dan die geld gebruik om goeie klank toerusting te koop vir mense wat met ’n vol hart in die musiekbedryf is, maar nie die kans kry om groot te gaan en hul drome uit te leef nie.

Exit mobile version