In die kollig

Leer ken Elna Venter.

Sunair Park inwoner Elna Venter (52) is die skoolhoof van Laerskool Môrewag. Sy is die ma van een seun, Ewert (23), en is getroud met Anton.

• Gee ‘n kort beskrywing van jou loopbaangeskiedenis.

Ek het my BA.Ed graad in 1986 aan die Randse Afrikaanse Universiteit behaal. Ek het my onderwysloopbaan op 1 Januarie 1987 te Laerskool Dalview begin waar Mnr. L.J. Marais die hoof was. Na sy aftrede was Mnr. D. Jacobs die hoof. Hierdie ikone was my rolmodelle.

Op 1 Januarie 2008 het ek ‘n departementshoofpos by Laerskool Môrewag aanvaar en op 1 Mei 2014 het ek die hoof van Laerskool Môrewag geword. Wat ‘n voorreg. Laerskool Môrewag se personeel en leerders lê my na aan die hart en ek wil graag ook ‘n verskil in hul lewens maak.

• Was dit nog altyd jou toekomsplan om ‘n skoolhoof te word?

Ja, ek het in ‘n onderwyshuis groot geword. My ma was ‘n onderwyseres aan Laerskool Brakpan-Oos en my pa was die hoof van Laerskool Dalview. Onderwys is in my bloed en ek wou in my pa se voetspore volg. Van kleintyd af het ek skool-skool gespeel.

• Hoofde van skole se verantwoordelikhede en pligte word nie makliker nie. Hoe hanteer jy dit?

Met wonderlike personeel soos myne is dit maklik. Ek word ook deur my ouers ondersteun want ons het almal ‘n gemeenskaplike doel: Gelukkige, suksesvolle kinders. Sonder die krag, wysheid en insig van Bo sal ek dit nie kan doen nie.

• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?

Nog steeds die hoof van Laerskool Môrewag waar elke kind sy plekkie in die son kan vind.

• Dink jy kinders van vandag verskil baie van kinders van 15 jaar gelede?

Ons kinders van vandag word met moderne tegnologie groot en moet baie meer gestimuleer word. Die eise wat aan vandag se kinders gestel word is oorweldigend en hul moet daarvoor voorberei word om die regte besluite te kan neem. Die sosio-ekonomiese omstandighede van elkeen speel ook ‘n rol in hul kindwees. Dis baie meer kompleks as 15 jaar gelede.

• Hoe sal die leerders jou beskryf?

Streng, regverdig, konsekwent en liefdevol.

• Indien jy vandag ‘n ander beroep moet kies, wat sal dit wees en waarom?

Ek kan my nie in ‘n ander beroep sien nie. Ek geniet dit om elke dag by die skool te wees en my alles te gee.

• Dink jy sosiale media is ‘n goeie ding of ‘n euwel?

As dit op die regte manier gebruik word, is dit goed.

• Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Elke uitdaging pak ek met groot ywer aan en my leuse is gegrond op die volgende Bybelvers: “Ek is tot alles in staat, deur Hom wat my die krag gee”.

Ek beskou ‘n teleurstelling as ‘n geleentheid en probeer altyd die positiewe raaksien. Ek word dan gemotiveer om aan te hou totdat ek my doelwit bereik het.

Alles gebeur met ‘n doel.

• Wat wil jy graag bereik as skoolhoof van Laerskool Môrewag?

Ek sal graag aan elke kind die geleentheid wil bied om tot sy/haar volle potensiaal te kan ontwikkel, hetsy op watter gebied, naamlik akademie, sport of kultuur.

• Watter aspek van jou werk geniet jy die meeste?

Ek gee nog klas, sosiale wetenskappe, en geniet elke oomblik. Dis ook lekker om by die afrigting van sport betrokke te wees.

• Wat doen jy graag in jou vryetyd?

Ek is dol oor tuinmaak. Verder geniet ek dit om kreatief te wees en hou my graag met kunsvlyte besig.

• Waar is jou gunsteling vakansiebestemming?

In die bos.

• Iets wat mense nie van jou weet nie?

Ek ry graag saam met my man op sy Harley-Davidson.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version