BlogsOpinion

In die kollig

Leer ken Monique Spamers.

Dalview inwoner Monique Spamers (40) stel op 10 September ’n nuwe Gospel CD, Grondpad Mens, by die El Roi Teater in Brakpan vry. Sy is getroud met Coenie en het vyf kinders, Michelle (21), Zahn Pierre (20), Michaela (18), Chloe (13) en Gracey (10).

• Hoe lank sing jy nou al?

Vanaf die ouderdom van drie.

• Wat doen jy wanneer jy nie musiek maak nie?

Ons maak pragtige pallet meubels. Ek help met die verf en mooimaak. Ons hou ook daarvan om saam as gesin lekker te eet en saam te kuier.

• Saam met watter sanger sal jy graag ’n duet mee wil doen en hoekom?

Jo Black. Ek verstaan sy musiek en hou van sy skryfstyl; dit vertel jou van die seer, opstaan en weer probeer en nooit opgee in die lewe nie. Baie soos my musiek.

• Watter tipe genre musiek is jou gunsteling?

Ek is ’n ‘soul’ sanger en is lief vir musiek met woorde wat sin maak. Ek hou van Afrikaanse musiek, want dit is naby my hart. Ek is lief vir ons land en sy mense. Ek hou ook van country, want dit gee ’n mens soveel spasie om jou gevoel uit te leef in jou musiek.

• Wie is jou gunsteling sanger?

Die gospel sanger Jason Crabb.

• Noem ’n hoogtepunt wat jy die afgelope jaar beleef het?

Ek was by die ‘It’s Time’ event van Angus Buchan. Dit was ongelooflik om deel te wees van 1.6 miljoen mense op hul knieë vir ons land en natuurlik my nuwe CD met 10 splinternuwe liedjies wat ek self geskryf het.

• Was daar ’n laagtepunt?

Geen. Hierdie jaar is ek besonder geseënd en die Here is werklik goed vir my en my gesin.

• Wat maak jou gelukkig?

My gesin en familie. Ek is versot op my kinders en geniet dit om tyd met my man en kinders te spandeer.

• Waar sien jy jouself in 10 jaar?

Hopelik ’n ouma van ’n spul kleinkinders. En natuurlik om te doen wat ek nou doen – om te werk vir die Here en mense hoop te gee.

• Wie is jou rolmodel en hoekom?

My ma. By haar het ek geleer om nooit op te gee nie, nooit nee vir ’n antwoord te vat nie en sterk te staan sodat die storms van die lewe jou nie wegspoel nie.

• Wat is jou stokperdjies?

Ek hou daarvan om enigiets kreatief aan te pak. Onder andere verf, seep maak, krale.

• Iets wat mense nie van jou weet nie.

Ek hou daarvan om alleen by myself te wees.

Lees ook: Publiek ondersteun sanger wat hartoorplanting moet kry

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button