In die kollig

Leer ken Victor Naudé.

Victor Naudé (13) is vanjaar die hoofseun van Laerskool Die Arend. Victor woon saam met sy ouers, Lukas en Stephanie Naudé, in Brakpan-sentraal.

· Jy is vanjaar die hoofseun van die Laerskool Die Arend. Wat het die jaar tot dusver vir jou ingehou?

Talle geleenthede en moontlikhede om my skool te verteenwoordig, wat ek nie sou gehad het, as ek nie die hoofseun was nie.

· Wat is jou pligte as hoofseun van die skool?

Om te alle tye ‘n goeie voorbeeld te stel, die skool se naam hoog te hou en geleenthede namens my skool by te woon.

· Wat sal jou raad wees aan jonger leerders wat daarna streef of leiers of hoofleiers te word?

Hulle moet van jongs af hard werk en te alle tye die nodige respek toon teenoor hulle mede skoliere en onderwysers.

· Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

Wiskunde, want dit is syfers en ek hou daarvan om numeriese probleme op te los.

· Beoefen jy sport by die skool?

Ja ek hou daarvan om in sport deel te neem. Ek glo mens moet ’n balans in jou lewe hê.

· Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Ek vat die lewe soos dit kom en probeer altyd positief wees, maak nie saak wat die probleem is nie.

· Wat is jou stokperdjies?

Ek hou van fietsry en ook om tyd saam met my vriende en familie te spandeer. Ek geniet dit ook om ‘n interessante boek te lees en rekenaarspeletjies te speel.

· Het jy al besluit watter beroep jy eendag wil volg?

Nee, nog nie heeltemal nie, daar is so baie keuses en ek weet nog nie watter een vir my bedoel is nie.

· Dink jy die jeug van vandag spandeer te veel tyd op hul selfone?

Ja, jy kan jouself vervreem van jou familie en verslaaf raak daaraan, as jy dit nie met matigheid gebruik nie.

· Wat laat jou lekker lag?

My lawwe vriende by die skool en ‘n lekker komediese fliek.

· Wat maak jou bang?

Die feit dat die tyd so vining verbygaan en ek so gou groot word. Aan die einde van die jaar, wat om die draai is, moet ek al die vriende en onderwysers van die laerskool agter laat en volgende jaar vir die volgende fase van my lewe aanpak.

Exit mobile version