In die kollig

Leer ken Karien du Plessis.

Karien du Plessis (13) is die hoofdogter van die Laerskool Brakpan-Oos. Sy woon saam met haar ouers, Gert en Karien du Plessis, in Brakpan-Noord en het ‘n ouer broer, Pieter (19), wat verlede jaar gematrikuleer het en nou studeer.

• Jy is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Brakpan-Oos. Het jy gedink jy sou die hoofleier word?

Nee, ek het nie gedink ek sou hoofdogter word nie, maar ek is nie vir ‘n oomblik spyt daaroor nie. Ek geniet dit baie en dit is ‘n groot eer vir my om die hoofdogter van my skool te wees.

• Wat is jou pligte as hoofdogter van die skool?

Dit is my plig om al die leiers op hul tone te hou en om ‘n goeie voorbeeld vir ander te wees. Dit is ook my plig om my skool se naam hoog te hou.

• Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

My gunsteling vakke is wiskunde en EBW. Ek hou daarvan om met syfers te werk en die onderwysers maak die vakke ekstra lekker. Ek vaar ook baie goed in dié vakke.

• Watter vak geniet jy die minste en hoekom?

Die vak wat ek die minste van hou is skeppende kunste, juis omdat ek nie baie kunstig is nie.

• Beoefen jy sport by die skool?

Ja, ek neem deel aan netbal, hokkie en ook redenaars en verskeie kunswedstryde.

• Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Ek sien altyd uit na ‘n nuwe uitdaging en is gewoonlik opgewonde oor nuwe uitdagings. Teleurstellings is nie altyd maklik om te hanteer nie maar ek vat maar als soos dit kom want ek weet Jesus staan by my, want ek is meer as ‘n oorwinnaar deur Jesus Christus wat my die krag gee.

• Wat is jou stokperdjies?

Ek hou daarvan om in my vrye tyd rekenaarspeletjies te speel, flieks te kyk en na musiek te luister.

• Het jy ‘n “fidget spinner” en wat is jou opinie oor die nuwe speelding, waaroor almal so dol is?

Ja, ek het ‘n “fidget spinner” dis mos nou glo die nuutste “stress reliever”. Dis darem iets wat die kinders uit die kwaad hou, maar ek dink ons leerlinge moenie tydens klastyd daarmee besig wees nie want dit is steurend vir die onderwysers en ook vir die leerlinge wat graag wil werk in die klas.

• Het jy al besluit watter beroep jy eendag wil volg?

Ek sal ook graag eendag, soos my broer, ‘n sagteware ingenieur wil word.

• Waar is jou gunsteling vakansiebestemming en hoekom?

Ons was al by verskeie vakansie oorde in die bosveld en dit is verseker my gunsteling vakansie bestemming want ek hou baie van die natuur.

• Wat laat jou lekker lag?

My vriende laat my die lekkerste lag, veral as hulle laf is.

• Is daar iets wat mense nie van jou weet nie?

My lewe is ‘n oop boek, alhoewel almal nie weet dat ek eintlik baie daarvan hou om skool toe te gaan.

• Dit was verlede week Nasionale Kinderbeskermingsweek. Dink jy daar word genoeg gedoen om kinders in ons land te beskerm?

Soos ek verstaan is daar wel baie maatskaplike werkers en ander organisasies wat gereed staan om te help. Die probleem kom egter wanneer volwasse persone kies om stil te bly oor gebeure omdat hulle nie betrokke wil raak nie. Ek dink kinders se veiligheid sal baie verbeter wanneer almal se ouers hulle pligte teenoor hul kinders na kom. Ons is immers maar nog kinders en het volwasse persone nodig om vir ons op te kom en daar te wees vir ons.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version