In die kollig

Leer ken vir Ethan Burger.

Ethan Burger (12) is vanjaar die hoofseun van die Laerskool Môrewag. Sy ouers is Diane en Warren Burger en hy het ‘n broer, Devan (28), en ‘n suster, Jennifer Band (30). Hy woon saam met sy ouers in Brenthurst.

• Jy is vanjaar die hoofseun van die Laerskool Môrewag. Het jy gedink jy sou die hoofleier word?

Ek wou graag ‘n leier wees, maar ek was baie verbaas om hoofseun te wees.

• Wat is jou pligte as hoofseun van die skool?

Eerstens, moet ek en die mede-leiers ons onderwysers help met die dissipline op die speelgrond. As hoofseun moet ek ‘n voorbeeld stel met my gedrag en voorkoms. Ek moet, saam met die ander leiers, die skool ‘n veilige en lekker plek maak vir alle leerders.

• Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

Wiskunde is my lekkerste en beste vak. Dit is lekker om wiskundige probleme op te los met formules.

• Watter vak geniet jy die minste en hoekom?

Kuns en kultuur. Alhoewel ek hou van inkleur, hou ek nie van prentjies teken en beeldhouwerk nie.

• Beoefen jy sport by die skool?

Ja, ek doen atletiek en het alreeds tweemaal die Gauteng-span gehaal. Ek speel ook rugby en het verlede jaar die Brakpan-span gehaal. Ek speel ook krieket vir die skool se eerste span.

• Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Ek het my been gebreek en ek was baie teleurgesteld, maar nege maande later het ek weer atletiek gedoen en begin rugby speel. Ek bly altyd positief.

• Wat is jou stokperdjies?

Ek hou baie van gholf en speel graag saam met my pa tennis. Ek hou ook daarvan om Xbox-speletjies te speel.

• Het jy al besluit watter beroep jy eendag wil volg?

Ek wil graag ‘n professionele atleet wees, byvoorbeeld ‘n krieketspeler, rugbyspeler, gholfer of tennisspeler.

• Waar is jou gunsteling vakansiebestemming en hoekom?

By die see. Ek hou daarvan om op die strand te hardloop en in die see te swem. Dit maak my kalm.

• Wat laat jou lekker lag?

As iemand my kielie of ‘n baie snaakse grap.

• Wat maak jou bang?

Nie baie nie, behalwe as iemand my skrik maak.

• Is daar iets wat mense nie van jou weet nie?

Nee, daar is niks wat niemand nie van my weet nie. Ek deel alles met my maats.

Exit mobile version