BlogsEditor's noteOpinion

In die kollig

Leer Maria Fourie ken.

Maria Fourie het onlangs ‘n mylpaal in haar lewe bereik, wat nie baie mense beskore is nie. Sy het Dinsdag haar 100ste verjaarsdag saam met vriende en familie in Brenthurst, waar sy by haar dogter, Sarie (73), woon, gevier. Saterdag het sy ‘n geselligheid in Florida bygewoon saam met haar drie susters (89, 86, 83).

• Waar is jy gebore en waar het jy grootgeword?

Ek is op Koedoesfontein gebore en het in die Groot Marico Distrik grootgeword.

• Kan jy onthou waar jy skool gegaan het?

Ek het saam met my boeties en sussies na ‘n plaasskool gegaan.

• Het jy ooit gewerk?

Ek het nooit gewerk nie, ek was ‘n huisvrou. Dit was my werk, om my kinders, Dawid (oorlede), Annatjie (oorlede) en Sarie (73) groot te maak en te sien dat my man, Chris, wie ook oorlede is, versorg is.

• Wat kan jy onthou van jou kinderjare?

Ons was 11 kinders en nou is daar net vier van ons oor – ek en drie van my sussies. Ons het op ‘n plaas gebly en ons het ook maar ingespring en gehelp waar ons kon. Ek was die oudste van die dogters en het ook maar gehelp om die ander boeties en sussies groot te maak.

• Wat het jy graag gedoen?

Ek was baie lief daarvoor om naaldwerk te doen en te lees. Ek het mooi hekelwerk gedoen en kon mooi tafeldoeke en dooprokke maak. Deesdae kan ek dit nie meer doen nie omdat ek nie meer so goed kan sien nie, maar ek help nog steeds om skottelgoed af te droog wanneer ons klaar geëet het.

• Wat is jou gunsteling kos?

Ek hou baie van vrugte; dit is vir my lekker en dit is gesond.

• Is daar ‘n kossoort waarvan jy nie hou nie?

Ek hou regtig nie van spenasie nie en ek eet ook nie kaas nie.

• Jou gesondheid is nog relatief goed, wat is die geheim?

Nee, ek weet nie maar ek het nooit gerook of gedrink nie. Ek sukkel nou met my sig en my gehoor maar ek kry skaars verkoue. Partykeer kan ek net nie meer so lekker onthou nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button