In die kollig

Leer Kiara Partingon ken.

Kiara Partingon (14), ‘n graad agt leerder aan die Hoërskool Stoffberg, het behoorlik uitgeblink tydens die skool se onlangse prysuitdeling.

Sy het vyf trofees ingepalm en ook erekleure vir akademie en kultuur ontvang. Kiara het vanjaar ook deurgedring tot die Gauteng finaal in gewigstoot, diskus en spiesgooi, en sy was ook die dogter tennisspeler van die jaar.

Sy woon saam met haar ouers, René en Nolan, in Denneoord, en het twee ouer broers, Kelton (22) en Justin (19).

• Jy vaar reeds sedert laerskool goed in sport, vertel meer.

Ek het in graad vier aan gewigstoot begin deelgeneem onder die afrigting van my pa, wat my steeds afrig. Sedert graad vyf tot huidiglik het ek elke jaar deurgedring na die Gauteng kampioenskappe met gewigstoot, en later met diskus ook.

• Wat is jou gunsteling sportsoort?

Atletiek en, meer spesifiek, gewigstoot, diskus en spiesgooi.

• Het jy ‘n natuurlike aanvoeling vir die sport waaraan jy deelneem, of oefen jy baie hard?

Ek het vanaf die begin ‘n natuurlike aanvoeling gehad vir gewigstoot en daarna het diskus en spiesgooi gevolg, omdat dit baie dieselfde is maar ek moet nog steeds baie hard oefen.

• Jou akademie bly ook nie agterweë nie, hoe kry jy dit reg om ‘n balans tussen akademie, sport en kultuur te handhaaf?

Akademie is elke dag se harde werk. Gelukkig is die sport baie seisoengebonde so, in daardie tye, moet ek maar ekstra insit, wat minder slaap vir my beteken. Kultuur is ook gelukkig nie die hele jaar lank ‘n aktiwiteit nie.

• Wat doen jy om te ontspan?

Ek is n huismuis. Ek hou daarvan om rustig te wees by die huis en musiek te luister, maar hou ook daarvan om “mall” toe te gaan saam met vriende.

• Waar sien jy jouself oor 15 jaar?

Ek sal baie graag ‘n veearts wil word, maar ek sal baie hard en lank moet studeer om daar te kom.

• Wat maak jou baie kwaad?

As mense voorgee dat hulle is, wie hulle nie werklik is nie, en nie self wil hard werk om hulle skoolwerk ens. te doen nie.

• Wat maak jou baie bly?

Wanneer ek my teikens, wat ek vir myself gestel het, kan bereik.

• Wat sal jou raad wees aan ‘n jongmens wat nie meer lus is vir die lewe nie

Hou moed! Baie keer kan jongmense nie verby ‘n probleem sien nie en verloor lus vir die lewe, maar as as jy weer kyk is daardie probleem lankal verby. Stel doelwitte en werk hard om dit te bereik – dit maak dat jy goed oor jouself voel.

• Wie is jou rolmodel?

Valerie Adams. Sy is seker een van die beste in die wêreld met gewigstoot en neem deel aan die Olimpiese Spele – iets wat ek ook graag eendag wil doen. Die belangrikste is egter die Here, wat my eerste prioriteit is.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version