In die kollig

Leer Johan Fourie ken.

Johan Fourie (42) is onlangs verkies tot die voorsitter van die Brakpan-tak van AfriForum. Hy is 42 jaar oud en woon in Brenthurst.

• Wanneer het die AfriForum Brakpan-tak tot stand gekom?

AfriForum word al, sedert kort na sy ontstaan ’n dekade gelede, in Brakpan verteenwoordig. Die tak het eers “takstatus” verwerf gegrond op die voorwaardes en bepalings van AfriForum, wat onder andere ’n minimum ledetal van 100 lede vereis. Die AfriForum Brakpan-tak is dus amptelik op 17 Maart 2016 deur ’n openbare vergadering gestig, vanwaar die takvoordele van krag geword het. Die AfriForum Brakpan-tak geniet steeds goeie organiese groei.

• In ’n neutedop; wat behels die organisasie en waarvoor sal julle, julself beywer in die dorp?

AfriForum is in wese ’n burgerregte organisasie, soos omskryf word in die burgerregtemanifes en beywer hom vir die beskerming van burgerregte vir elke burger van die land. AfriForum ondersteun en motiveer selfhelpaksies deur gemeenskappe om selfvoorsienend te wees in aangeleenthede waar die staat in breë faal.

• Hoeveel lede het die Brakpan-tak op die oomblik?

Die AfriForum Brakpan-tak se nuutste ledetelling staan op 160 lede, wat bestendig groei en deel uitmaak van die amper 200 000 lede nasionaal.

• Wie kan by AfriForum aansluit?

AfriForum is ’n apolitiese, agodsdienstige, arassige burgerregteorganisasie en lede landwyd oorskrei tradisionele grense van kultuur, herkoms, ras, godsdiens en taal. Dus, binne die raamwerk van ’n grondwetlike reg tot vryheid van assosiasie, is en bly lidmaatskap tot AfriForum oop vir enige burger wat identifiseer met die waardes waarvoor AfriForum hom beywer.

• Jy is die nuut verkose voorsitter van die Brakpan-tak. Wat behels jou pligte en wat beteken dit vir jou?

Inderdaad, en ek is opreg dankbaar vir die vertroue van AfriForum Brakpan-tak se lede vir die voorreg en eer.

Groot werk lê vir ons voor, ons moet voortbou op die grondslag wat in Maart gelê is en stelselmatig die probleme in ons gemeenskap aanspreek. Ek steun in elke aspek hiervan op die toewyding en vaardighede van die uitgebreide bestuurspan, die lede, die gemeenskap en AfriForum se nasionale strukture.

Van die grootste uitdagings tans sluit in om gemeenskapsdeelname te kweek, ledetal deurlopend te groei, deursigtige, verantwoordelike en veral sinvolle gesprekvoering te bevorder, deur sodoende brûe te bou wat in as lê, en om op bewese resultate voort te bou.

Projekte en aangeleenthede wat aandag geniet moet nie net remediërend wees nie, maar fokus op proaktiewe voorkoming, indien nie verbetering nie.

Die AfriForum burgerregtemanifes en gemeenskapsplan is beide omvattende dokumente wat meer toeligting kan verskaf, rondom die onderskeie pligte van die takbestuur en forumhoofde, asook op algemene oorwegings en vrae, en is vrylik beskikbaar via AfriForum se webwerf of verkrygbaar op aanvraag vanaf die taksekretaris by brakpan.afriforum@gmail.com.

• As jy enige vyf mense kan nooi vir ete wie sal dit wees?

Dammit, dis ’n moeilike vraag, hoe meer ek dink oor die vraag hoe moeiliker word die antwoord.

Persoonlik: My ma, twee oumas en oupas (ek het nie kans gehad om ordentlik te groet nie, almal is al oorlede).

Invloedryke mense van alle tye: Jesus, Albert Einstein, Nikola Tesla, Vladimir Putin en Confucius.

• Waar hou jy graag vakansie en hoekom?

By die see, enige plek by die see. Die kalm rustige ritmiese breek van golwe in die agtergrond is my “heiligdom”. Ek hoef nie in die water te wees nie, ek moet net weet dis daar en dat ek dit kan hoor.

• Watter beroep beoefen jy?

Sagteware- en stelselontwikkelaar in die elektroniese opsporings bedryf.

• Kookkos of braaivleis?

Yum. Beide, kos is lekker en lekker kos is ’n swakpunt van my. As ek moet kies, sal ek nie kan nie, want beide het sy plek. Kookkos op Sondae en ’n lekker vleisie op die kole op ’n Vrydag- en/of Saterdagaand is koning.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version