In die kollig

Leer Francois van Coke ken.

Min mense weet dat Francois van Coke (35), wat naam gemaak het as die ikoniese voorsanger van Fokofpolisiekar, in Brakpan gebore is en vir die eerste drie jaar van sy lewe in Brakpan woonagtig was.

Aanhangers sal bly wees om te hoor dat Van Coke, saam met Karen Zoid, op 8 Julie weer in Brakpan kuier, vir sy Toe Vind Ek Jou-konsert, wat in Carnival City se Big Top Arena plaasvind.

Wanneer sal jy sê het Francois Badenhorst amptelik verander in Francois van Coke?

My pa is ‘n dominee en na die eerste resensie van Fokofpolisiekar se eerste EP in Die Burger verskyn het, het daar mense in my pa se gemeente die pastorie gebel om te hoor wat gaan aan met sy seun. Ek was al lank nie meer in die kerk nie, maar die gemeente was steeds bekommerd. My ma het my toe gevra of ek ‘n ander van kan gebruik. Ek het myself toe die eerste keer Francois van Coke genoem, in ‘n onderhoud in 2004, en dit het gebly.

Jy het in 2015 jou eerste solo-album vrygestel, wat jou vyf Ghoema-toekennings ryker gemaak het. Hoe sal jy die album beskryf?

Dit is ‘n rock album met invloede van punk, folk, pop, country, alternatiewe en industriële klanke.

Wat kan aanhangers verwag van jou tweede solo-album?

Ek is tans besig om te werk aan my tweede album en ek dink die styl gaan redelik soortgelyk wees. Ek gaan die beste moontlike liedere skryf en my orkes is meer betrokke op die album. Ek gaan met ‘n vaste orkes werk, wat ek nie op die vorige album kon doen nie. So, ek dink dit behoort ‘n meer samehangende album te wees.

Die enkelsnit, Toe Vind Ek Jou, ‘n ballade wat jy saam met Karen Zoid vrygestel het, het oornag ‘n sensasie beleef. Met wie sal jy nog in die toekoms wil saamwerk?

Ek sal graag met meer Suid-Afrikaanse hip-hop kunstenaars wil werk. Ek hou baie van Cassper Nyovest, Kwesta en Ricky Rick.

Wat is jou normale daaglikse roetine as jy rustig by die huis kan wees, of bestaan daar nie so iets nie?

Ek het nie veel rustige dae by die huis nie, maar as ek rustig is stap ek graag met my hond, Ringo, hang uit saam met my vrou, Lauren, en surf as ek regtig die kans kry.

Min mense weet dat jy in Brakpan gebore is. Sal jy ooit wil terugtrek Oos-Rand toe of is jou hart in Kaapstad?

Nee, ek sal nooit terugtrek Brakpan toe nie. Ek het net die eerste drie jaar van my lewe daar gebly en sal Kaapstad vir niks verruil nie. Ek het egter ‘n groot konneksie met die Oos-Rand. Ons het die eerste vier Fokofpolisiekar albums in Impala Park, in Boksburg, opgeneem en ek speel ook gereeld in die Oos-Rand. Ek is lief vir die mense van die Oos-Rand.

Hoeveel tattoos het jy?

Ek het 15 tattoos. Van die tattoos het ‘n betekenis en ander is net vir die pret.

Waar is jou gunsteling vakansiebestemming en hoekom?

Ek is mal oor die Wes-Kus en gaan gereeld Langebaan toe.

Na watter musiekgroep of sanger sal jy oor-en-oor kan luister?

Queens of the Stone Age en Arctic Monkeys.

Iets wat mense nie van jou weet nie?

Ek het rugby gespeel op skool en het die WP o-13 Cravenweekspan gehaal.

Exit mobile version