In die kollig

Leer Alta Barnard ken.

Alta Barnard (55) is die afgelope drie jaar deel van ‘n groep mense wat minder bevoorregte mense help.

Sy glo dat sy net ‘n normale mens is wat ‘n klein verskil maak en dat die wêreld ‘n baie beter plek sal wees as mense meer vir mekaar sal omgee.

• Die organisasie waaraan jy behoort staan bekend as die Wild, Wild Guardians. Wie is julle en wat doen julle?

Ons is ‘n groep mense wat hulp verleen aan minder bevoorregte mense. Ons kyk ook waar ons kan help indien gevalle van kindermishandeling onder ons aandag kom. Ons probeer ten minste een keer per week vir hawelose mense kos gee. Wanneer ons skenkings van klere kry, versprei ons dit ook onder die armes.

• Sou jy sê dat daar ‘n toename in die aantal mense, wat op straat leef is, in vergelyking met verlede jaar?

Ja, daar is baie beslis meer mense wat in groot nood verkeer. Ons kom byna elke dag nuwe mense teë wat hulp vra, of van iemand weet wat hulp nodig het.

• Hoe kry julle fondse of donasies om hulp te verleen?

Ons maak grootliks staat op skenkings en ondersteuning van die publiek, asook ons vriende en kennisse. Ons vra geen kontant nie, net soveel moontlik nie-bederfbare kos en klere.

• Hoeveel keer per week gaan gee julle vir die mense op straat iets om te eet?

Ons probeer een keer per week kos uit deel. Wanneer ons vars produkte kry, versprei ons die kos op dieselfde dag. Skenkings is bitter skaars en ons deel wat ons kan.

• Wat is die ergste geval wat jy al beleef het?

Ek is een nag uit geroep en moes een van my straatkinders gaan by staan, toe sy in vroeë kraam gegaan het. Danksy die Brakpan Gemeenskap Polisiëringsforum kon ons vinnig ‘n ambulans kry. Die tweeling is gebore, maar het ongelukkig nie oorleef nie. Dit was vir my baie roerend.

• Is daar baie jong kinders wat ook swaar kry?

Ja daar is baie. Dit breek my hart as jy sien hoe dankbaar die kinders is vir ‘n brood. Soms maak ek potte kos en vaar die strate in. As ek stop skree die kinders gewoonlik: “Hier kom Moeder, ons gaan eet”. (Baie van die kinders noem my Moeder).

• Noem ‘n doelwit wat jy baie graag in jou lewe wil bereik?

My grootste doelwit sal wees om ‘n groot, geskikte perseel te hê. Om al die minder bevoorregtes van die straat af te kry en seker te maak dat hulle ten minste een keer per dag kos kry.

• Waarvoor is jy baie bang?

Wanneer die weer swaar is, word ek bitter bang.

• As jy enige plek in die wêreld kan vakansie hou, waar sal dit wees?

Solank ek die see kan sien sal ek dood gelukkig wees op enige plek. Die see bring rustigheid.

• Watter vyf woorde beskryf jou.

Gelowig, nederig, liefdevol, positief, besig (wel so sê my kinders).

Exit mobile version