’n Opwindende jaar wag vir die Brakpan Rugbyklub en die verkiesing van die nuwe klubbestuur vir 2025 het verlede Woensdagaand die bal aan die rol gekry.
Frikkie Bosman is verkies tot die nuwe voorsitter van die klub.
Dié oud-inwoner van Brakpan is bekend in rugbykringe en kom uit ‘n familie wat diep spore in Brakpan rugby geskiedenis getrap het.
Sy oupa, Koos Bosman, na wie die Bosman Stadion vernoem is, het 75 jaar gelede ook in die voorsitterstoel gesit.
Frikkie Bosman sal bygestaan word deur Kiewiet Janse van Nieuwenhuizen (onder voorsitter), Werner Stoltz (ere sekretaris) en Franco Booysen (klub kaptein).
Bosman het, nadat hy tot voorsitter verkies is, gesê dit is vir hom ’n groot eer om as voorsitter te dien.
Hy het die hoop uitgespreek dat die klub vanjaar nuwe hoogtes sal bereik deur goeie samewerking tussen die bestuur, spelers en ander rolspelers.
Bosman se eggenoot, Claudette, het in ’n simboliese gebaar ’n paar rugbystewels aan hom oorhandig met die boodskap dat hy groot stewels het om vol te staan (met verwysing na die bydrae wat sy oupa gelewer het tot rugby in Brakpan).
Die herbevestiging van Dirk Grobler as ere-president asook ere-lewenslede Chris Homann, Wally Labuschagne, Hendrik Horn, Six van der Vyfer en Saartjie Vermeulen het ook tydens die vergadering, wat ’n groot opkoms gehad het, plaasgevind.
Die nuwe Castle Lager Superliga, waarvan die Brakpan Rugbyklub nou deel is, skop af op 15 Februarie.
Klub spanne van die Bulls, Valke, Limpopo en die Luiperds gaan oor drie rondes deelneem in die liga.
Brakpan speel op 15 Februarie in hul openingswedryd op die Bosman Stadion teen Tuine-Grizzlies Rugby Klub.
Die span sal op 22 Februarie in ’n weg wedstryd in Rustenburg teen Sibanye Stilwater speel.
In ‘n groot kragmeting kom Brakpan op 8 Maart op die Bosman Stadion teen die Northam Rhinos te staan.
Die halfeindronde volg daarna op 15 Maart en die eindstryd op 22 Maart.
Nadat die Castle Lager Superliga afgehandel is, speel Brakpan in die Valke se President Uitklopliga waarin al die Valke klubs deelneem.
Daarna volg die Peregrine Liga asook die 2025 Gold Cup.
“Ons het gedurende 2024 hard agter die skerms gewerk om die ‘n Brakpan Rugbyklub op te gradeer en te verseker dat besoekers weer rugbywedstryde kan geniet soos in vroeë jare,” het Bosman gesê.
“Ons gaan ook uitreik na ons plaaslike skole en ‘n paar kompetisies van stapel stuur om ons jeug by die stadion te kry en gees te bou. As nuwe voorsitter van die Brakpan Rugbyklub is ons oorgehaal vir die seisoen en die ligas wat voorlê.”
“Ons is reeds besig met voorbereiding en het volle vertroue in al ons afrigters op junior- en senior vlakke.
“Ons gaan in die komende weke ook baie fokus op ons junior klubs. Hulle vorm ‘n integrale deel van ons sukses,” het Bosman bygevoeg.
“Dit is egter vir my en die bestuur van die Brakpan Rugbyklub van groot belang dat ons die ondersteuning van die gemeenskap van Brakpan sal geniet. Ons nooi die mense van Brakpan uit om hierdie seisoen op te daag om die Brakpan Rugbyklub spelers te ondersteun.”