Finale jaar modestudent stal uit by SA Modeweek

Stefni Binneman het nie die geduld vir aktiwiteite soos brei, hekel of borduur nie, en sal veel eerder fokus op die konstruksie van haar uitrustings.

Stefni Binneman (21) van Brakpan-sentraal is ‘n finale jaar mode student by die STADIO School of Fashion in Randburg, en het onlangs die geleentheid gehad om van haar werk by die Suid-Afrikaanse Modeweek uit te stal.

Dié geleentheid word aan slegs 20 kandidate gebied, maar honderde studente skryf jaarliks in. Die tema vir die jaar se uitstalling was volhoubare mode-ontwerp in wit met ‘n stukkie kleur.

Stefni het besluit om vir die uitstalling ‘n onderbaadjie te ontwerp wat net ‘n meter en ‘n half materiaal benodig het.

Die hele stuk lap is benut sonder enige oorblyfsels. Om die tema verder te bevorder is die stukkie kleur versierings op die baadjie van ‘n ou, herwonne gordyn gesny.


Een van Stefni Binneman se gunsteling stukke wat sy al gemaak het.

Volgens Stefni is die stuk beïnvloed deur ‘vintage’ mans onderbaadjies, met ‘n lang agterpunt, wat na opera-opvoerings gedra is.

Stefni wou ‘n meer vroulike weergawe daarvan skep en het elemente soos dun bande, ‘n meer vroulike form in die maatwerk, en ‘n groot glas kristal knoop geïnkorporeer.

Deel van haar inspirasie was ook loodglas, en die onderbaadjie is bedek met blokkies, wat die mosaïek effek van loodglas naboots.

Die blokkies is ook individueel gestik met helder kleure, wat blou, groen, rooi en pers insluit. Stefni wou nog altyd ‘n ontwerper word, en haar passie vir mode het begin by haar Barbie en Bratz poppe, maar veral die Bratz uitrustings.


LEES OOK: Support the East Rand Children’s Haven Adopt-a-Doll campaign


Haar gunsteling materiaal is denim, weens die veelsydigheid van die materiaal. Sy is dol oor die patroonmaak gedeelte van die ontwerp proses.

“Wiskunde was nooit ‘n sterkpunt vir my op skool nie, maar met patrone het dit gou my sterkpunt geword,” het sy gesê.

“Ek hou daarvan om te sien hoe ‘n twee-dimensionele blok die groter beeld form, en ek hou daarvan om korsette en maatwerk toe te pas op die patrone wat ek skep,” het sy verder vertel.

Sy is nie so lief vir chiffon lap nie, en verkies gaas (mesh) omdat dit baie meer vergewend is om mee te werk.


Stefni Binneman geniet dit veral om korsette maak.

Sy het ook nie ‘n gunsteling kledingstuk om te maak nie, maar verkies dit om individuele stukke te skep.
Stefni verf ook, doen fotografie, en hou van stensil-drukwerk.

Sy het nie die geduld vir aktiwiteite soos brei, hekel of borduur nie, en sal veel eerder fokus op die konstruksie van haar uitrustings.

“Ek is nogal ‘n perfeksionis, en ‘n mens sal nooit ‘n ontblote naat op een van my stukke kry nie. Ek spot altyd dat my werk van so ‘n aard is dat dit onderstebo gedra kan word en niemand sal kan agterkom dat iets nie pluis is nie,” sê sy.

Stefni droom om eendag oorsee te gaan werk vir ‘n bekende ateljee, veral Chanel, en om haar ontwerpe by een van die groot modeweke uit te stal.

Stefni stel haar finale jaar modereeks bekend op haar sosiale media op 30 November, en mense kan haar groei in die veld op Facebook en Instagram volg. Haar etiket is Starz Fashion, wat ook haar Facebookblad se naam is. Haar Instagram is @st4rzsfashion.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version