Potjie op ‘Braaidag’ voed vele mense in Brakpan

Die nie-winsgewende organisasies het bakkies kos en ander donasies ontvang van besighede in die dorp.

Rosetulee was Dinsdag op Erfenisdag ‘n miernes van bedrywighede toe verskeie plaaslike besighede en instansies bymekaar gekom het om kos te kook vir liefdadigheid.

Ongeveer 700 porsies kos is gemaak op die dag, wat meestal potjie en rys ingesluit het, sowel as kerrie en mieliepap.

Die bakkies kos is opgeskep en deur AfriForum se Brakpan-tak vervoer na verskeie instansies in die dorp.

San Michele, Loved Ones of God, Mother’s Nest en Eventide was die begunstigdes, met Mother’s Nest wat ook sanitêre ware ontvang het van Jawitz Property se span, Natasha Barnard en Nadine Raper.

Rosetulee was die gashere vir die dag, maar plaas klem op die feit dat dit ‘n gesamentlike projek was tussen hulle, AfriForum en al die besighede wat skenkings gemaak het of potjies voorberei het.


Natasha Barnard en Nadine Raper het vir Jawitz gekook op die dag.

Twee leerders van Helpmekaar Akademie het ook hul ondersteuning gebied as deel van hulle gemeenskapsdiens wat deur die skool vereis word.

Hulle het gehelp om al die gazebos op te stel, en na al die gekook, het hulle gehelp om op te skep en uit deel.

“Saam is ons sterker” het Andries de Kock, die eienaar van Rosetulee, gesê.

“As almal in die dorp help sal ons baie meer kan doen, en meer gereeld.”

Andries wil graag elke ses maande vir soortgelyke geleenthede gasheer speel en wil meer besighede betrokke kry.

Die doel vir die dag was om 450 bakke kos te skenk maar daar is omtrent 700 gemaak.


Toyota se span: Marcus Potgieter, Henry Erasmus, Brian Smith, Jan Knoesen, en George van Niekerk.

Andries hoop om by die volgende projek tussen 1 000 en 2 000 borde kos te kan voorsien in samewerking met besighede.

Die geleentheid het egter nie net oor die kos gegaan nie.

Kontant is ingesamel vir verdere liefdadigheid deur middel van ‘n groot donasie houer, wat deur die slap-fighter Pieter ‘Bulldog’ Vorster en Hester Kroukamp rondgedra is tussen die restaurant se tafels deur, om mense die geleentheid te gee om skenkings te maak.

‘n Plaaslike orkes, Twisted, het ook musiek verskaf vir die dag, en die twee lede, Jaco Dennis en Kyle Raziel, het hulself bekend gestel as ‘Kerrie en Rys’ of ‘Biryani en Boerewors’.

Hulle self het ook 40 porsies gemaak vir die Loved Ones of God.




LEES OOK: How to to keep your car running in different weather conditions

LEES OOK: Pet owners can proactively limit rabies through vaccinations

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version