Egpaar gestrand na voertuig voor hospitaal gesteel word

Die voertuig was die egpaar, se enigste vervoermiddel en hulle kan nie 'n ander een bekostig.

‘n Egpaar van die dorp sit met hulle hande in die hare nadat hulle voertuig Vrydag by die Verre Oos-Rand Hospitaal gesteel is.

Die blou GTI Golf was Manne (65) en Mari (63) se enigste vervoermiddel en die egpaar twyfel of hulle ooit weer ’n voertuig sal kan bekostig.

Dit is alom bekend dat pasiënte en besoekers aan die hospitaal nie binne die gronde van die hospitaal mag parkeer nie.

Motoriste moet noodgedwonge hul voertuie voor die hospitaal, op die sypaadjie of in die veld parkeer en staatmaak op karwagte vir veiligheid.

“Ons was so 07:00 daar om Manne se bril, wat vir hom gemaak is, te gaan kry en toe ons 08:15 buite kom was ons voertuig weg,” het Mari vertel.


LEES OOK: Truck driver hijacked after being pulled over by bogus cops


“Ons was uit die aard van die saak geskok en omdat ons as ’n reël nie ons selfone saamneem wanneer ons die hospitaal besoek nie, was ons ook gestrand,” het sy gesê.

Die egpaar het al die pad na hul huis in Powerstraat gestap en later die voorval by die Brakpan SAPD aangemeld.
Dit saak is oorgeplaas na die Springs SAPD.

“Ons het aan die begin van die jaar geld spandeer om die enjin te laat oordoen, want ons moes op die kar staatmaak om ons van punt A na punt B te kry,” het Mari gesê.

Die egpaar, wat nie oor ’n mediese fonds beskik nie, besoek die hospitaal maandeliks en alhoewel hulle altyd bekommerd was oor hulle voertuig was daar nooit voorheen probleme nie.

Mari sukkel met rugprobleme en die wete dat hulle nou sonder ’n voertuig oor die weg moet kom is vir haar rede tot groot kommer.



LEES OOK: Change in weather sees change in Brakpan crime patterns

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version