Anker leerder sien uit na Dubai sewes netbal toernooi

Die kranige netbal speler is omtrent halfpad met haar fondsinsameling vir die toer.

Schiné Clark, ‘n Graad Nege leerder aan Hoërskool die Anker, gaan eersdaags haar tasse pak om na Dubai te reis waar sy Suid-Afrika sal verteenwoordig in die jeug kategorie van die Dubai Sewes Netbal toernooi.

Dié kranige netbalspeler gaan van 27 November tot 3 Desember aan die toernooi deelneem, saam met 20 ander spelers van regoor die land.

Sy speel vir haar skool, en kry ook afrigting by Four Leaf Netball Coaching.

Benewens die feit dat sy uitblink in netbal, beoefen Schiné ook atletiek waar sy deelneem aan hekkies, 100m, 200m, spiesgooi, hammergooi en aflos.

Sy het reeds begin deelneem aan byeenkomste ter voorbereiding van die komende atletiekseisoen.

Schiné, wat van ‘n jong ouderdom aktief op die sportveld is, het in Graad Sewe haar enkel ligamente in so ’n mate beseer, dat sy verlede jaar ’n operasie moes ondergaan.


Schiné Clark in aksie op die netbalbaan.

Dit het haar wel teruggesit in haar sport, maar ten spyte daarvan het sy steeds die span vir die Dubai toer gehaal.

Schiné is opgewonde oor die toer, aangesien daar baie uitstappies beplan is vir die span tussen wedstryde.

Dit sluit ‘n uitstappie na ‘n waterpark in, nadat hulle in Dubai geland het.

Die 20 spelers gaan ook ‘n woestyn safari en aandete in die woestyn meemaak en die hoogste gebou in die wêreld, Burj Khalifa besoek; ‘n geleentheid waarna sy besonders uitsien.

Schiné is nie net ‘n kranige atleet nie, maar ook deel van die Anker se verteenwoordigende leerlingraad (VLR), graadleiers vir elke graad onder die skool se uitvoerende raad (UR).

Sy neem ook deel aan Engels en Afrikaanse spoedlees in die skool, en het begin met revue, maar moes dit laat vaar weens haar besige skedule.


LEES OOK: Anker skopbokser verteenwoordig SA by Afrika Kampioenskappe


Haar gunsteling vak is lewensoriëntering, oor die fisiese aspek. Sy sal graag eendag ‘n eiendomsagent en later bestuurder wil word. Indien die geleentheid na haar kant toe kom, sal sy ook in die toekoms rugby wil speel.

“Moet nie laat ander mense jou laat glo jy is nie goed genoeg nie en moenie opgee oor ander se opinies nie,” is haar raad aan ander atlete.

“Soms is ander beter as jy vir die seisoen, maar moenie opgee nie. Almal het hulle tyd.”

Schiné is dankbaar vir haar ouers se ondersteuning, ten spyte van die drama en politiek wat altyd sy plek kry in sport.

Hulle het haar van sesjarige ouderdom reeds oor netbal begin leer, en nou het sy die geleentheid om op ‘n wêreld platform deel te neem en raakgesien te word.

Dié netbalspeler is sowat halfpad met haar fondsinsameling vir die toer, en enigiemand wat ‘n bydrae wil maak kan haar ma, Sharline Clark, 082 429 2655 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version