Jong mode ontwerper het groot planne

Die Dalpark inwoner wil graag haar eie ateljee open en ontwerpers aanrokke skep.

Dalpark inwoner Elyna Wasserman (20), ‘n finale-jaar student by die Villioti Fashion Institute in Hyde Park is ‘n mode-ontwerper met ‘n blink toekoms wat vir haar voorlê.

Elyna is in haar derde jaar by Villioti en neem vir die tweede jaar deel aan die instituut se kompetisie vir Wild Africa Cream, waar ontwerpers ‘n skets indien vir ‘n aandrok wat ooreenstem met die alkohol se handelsmerk, naamlik ‘n luiperd.

Met verlede jaar se kompetisie het sy deurgegaan na die top 12 ronde, maar nie gewen nie. Vanjaar is sy weer in die top 12 en sy het reeds ‘n fotosessie in November met haar voltooide rok.

Indien haar ontwerp wen, sal dit gebruik word vir bemarking en geleenthede wat deur Wild Africa Cream aangebied word.

Boonop sal dit vir haar R10 000 in die sak bring. Die tweede plek wenner sal R7 000 ontvang en derde plek wenner R3 000.


Een van Elyna Wasserman se gunsteling ontwerpe wat sy gemaak het.

Vir Elyna was mode ontwerp nooit op haar radar nie en sy het op hoërskool wiskunde en rekeningkunde gehad met die hoop om ‘n onderwyser te word.

In matriek het sy ‘n beroep uitstalling bygewoon waar Villioti teenwoordig was en dit was asof deure vir haar oop gegaan het.

“Vir my was die lekkerste deel om te leer hoe om naaldwerk te doen. Ek het dit nooit voorheen gedoen nie, maar hulle het ons van die begin af geleer,” het sy vertel.

“As jy in mode in wil gaan, moet jy nie in jouself twyfel nie. Jy leer nog, en jy gaan baie foute maak. Jy gaan lang ure moet werk en weet hoe om kritiek te ontvang en toe te pas,” was haar raad.


Die uitrusting wat Elyna Wasserman vir Carla Schönfeldt gemaak het om na die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste toe te dra.

Haar gunsteling deel van die ontwerp proses is die einde, wanneer haar kliënte vir die eerste keer ‘n voltooide rok sien en ‘n kyk van bewondering op hul gesigte kry.

‘n Hoogtepunt vir haar was een van haar rokke wat al die pad Los Angeles toe gegaan het saam met Carla Schönfeldt vir die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in Augustus, 2022.

Elyna geniet om borduurwerk en kralewerk te doen, en haar gunsteling tekstiele om mee te werk is duchess-satyn en organza.

Sy verkies patroon-blokke oor drapering (die metode om die lap direk op die mannekyn te drapeer, vas te steek en te sny volgens die vorm van die mannekyn), omdat dit meer presies is.

Vir die eerste paar jaar sal Elyna graag wil werk by Lizan Zondagh, by wie sy ‘n internskap gedoen het, voor sy uiteindelik haar eie ateljee oopmaak waar sy ontwerpers aandrokke wil maak.




ALSO READ: Carnival City fuels dreams

ALSO READ: City manager recognises dedicated women staff

Exit mobile version