Brakpan eerstes verloor finaal in die doodsnikke

Die klub het 'n opbouende en positiewe seisoen agter die rug.

Brakpan Rugbyklub se eerste span het Saterdag teen Vereeniging in die Valke Peregrine finaal te staan gekom in ‘n wedstryd wat op die Barnard Stadion in Kempton Park gespeel is.

Die wedstryd was die hoogtepunt van ‘n baie opbouende en positiewe seisoen wat die Brakpan Rugbyklub vanjaar beleef het.

Ondersteuning vir Brakpan het hooggety gevier maar ongelukkig moes Panne met slegs een punt verskil die knie buig.

Die twee spanne was regdeur die seisoen die beste spanne in die liga gewees en daar was deurentyd ‘n wipplank stryd in die aanskoulike finaal wat in goeie gees gespeel is.

Vereeniging het eerste twee drieë gedruk, wat suksesvol verdoel was voordat Brakpan hulle eerste punte kon aanteken.


Jacques Blignault in volle vaart.

Met halftyd het die telbord op 21-24 in Vereeniging se guns gestaan. Die wedstryd was tot op die laaste minuut in die weegskaal.

‘n Mislukte doelskop in die laaste minuut het die skaal in Vereeniging se kant toe laat swaai. Die eindtelling was Brakpan 40 – Vereeniging 41.

Brakpan het ses drieë in die wedstryd gedruk waarvan vyf verdoel was.

Brakpan se puntemakers was drieë: Brandon Swart (1), Garren Morris (1), Henry Pike (1), Ruben Beytell (2) en ‘n strafdrie en doelskoppe: Ruben Beytell (4) en Henry Pike (1).

Brakpan het in die 2024 seisoen vir vriend en vyand verras met hulle spel en die bestuur en spelers sien uit na die 2025 seisoen.


LEES OOK: Enter the #SilentWalk&Run today

LEES OOK: Brief: Hoe sê mens genoeg dankie?


Exit mobile version