Local newsNews

Hartaanval eis motorfietsklub se vise-president

Hy was 'n man en pa soos min, met 'n hart van goud.

Hendrik ‘Hennie’ Pretorius (63) is op 11 Augustus aan ‘n hartaanval oorlede by sy huis in Minnebron.

Sy vrou, Koekie (58) het hom ontdek en ten spyte daarvan dat mediese hulp gou opgedaag het, kon sy lewe nie gered word nie.

Hennie was ‘n pa van vier en oupa van 13 en was veral bekend onder motorfietsryers. Hy was die vise-president van die Undaunted Motorfietsklub.

Sy drie dogters, Bianca (34), Winnie (38) en Natasha (36), en seun Johan Pretorius (33) is baie hard geraak deur sy afsterwe.

Volgens Koekie was Hennie ‘n pa wat altyd daar was vir sy kinders en lief was vir hulle; deur goeie tye en slegte tye.

“Maak nie saak waar hulle in die lewe was nie, in die kroeg of in die kerk, hy het by hulle aangepas en hulle liefgehad,” het sy gesê.

As ‘n man was Hennie ‘n steunpilaar. Hulle het alles saam gedoen en mekaar goed gekomplimenteer.

“Waar ek te besig was om reëlings te tref vir iets het hy net beheer oorgeneem en as hy besig was met sy kar of sy motorfiets het ek seker gemaak day hy genoeg eet,” het sy vertel.

Die egpaar was vir 39 jaar getroud en vir Koekie is haar beste herinneringe van hom dat hy haar toegelaat het om haarself te wees. Hy het haar behandel soos sy beste vriend, en sy lag was aansteeklik.

“Hy het nooit geweld of harde woorde gebruik nie. Hy het ‘n sekere manier van kyk gehad, wat almal laat ophou het waarmee hulle besig was. Hy was ‘n streng mens, met ‘n klein hartjie,” het sy gesê.


LEES OOK: Slap fighter joins SASFA and brings valuable experience to the sport


Sy grootste voorliefde was tyd saam met vriende en familie, kos, en sy motorfiets en Ford Anglia. As hy op sy motorfiets was, was hy in sy element, en hy het respek ontvang orals waar hy gegaan het.

Hennie was ook baie betrokke in die gemeenskap, en het gereeld besoek gebring aan ouetehuise waar hy spontaan met die inwoners gedans en gekuier het.

“As daar ‘n sterfte was het hy gaan bystaan waar hy kon, en hy het ook gereeld gehelp met welsynskinders om onder andere vir hulle vakansies te reël. Vandag moet Undaunted Mc vir ons nasionale vise-president, oom Hennie groet.

“’n Legende, leier en ‘n voorbeeld vir so baie. Ons dink vandag aan daardie gesin met die stukkende harte en bid vir vertroosting al is dit bitter moeilik,” het ‘n boodskap van die motorfietsklub gelui.

Hennie is op 14 Augustus begrawe, en is afgesien met ‘n “last ride” deur motorfietsryers van heinde en verre.


Related Articles

Back to top button