Vrouedag inspireer ma se eerste poging op loopplank

n Verdere dryfkrag was Vrouemaand en ek wou bewys dat ‘n mens wel iets kan vermag as jy net die kans neem.

‘n Inwoner van Brenthurst het op 36-jarige ouderdom haarself vir die eerste keer op die loopplank bevind en terselfdertyd haar eerste twee titels ingepalm.

Elsabe Scheepers het haar titel, met die oog op Vrouemaand, aan al die vroue van die dorp opgedra.

Sy is onlangs aangewys as die kategoriewenner van die Model van die Jaar kompetisie van ‘n modelskool en het ook die ‘casual ramp’ afdeling gewen.

Die kompetisie het in Meyerton plaasgevind. Die Herald het met haar gesels.

• Is dit die eerste keer dat jy so iets doen?
Ja, dit was die heel eerste keer dat ek uit my gemaksone beweeg het om so iets aan te pak. Ek het werklik nie verwag om te wen nie en daar ontvang ek toe sommer twee titels. Ek was beslis geskok maar ook trots. Gewoonlik is ek in die gehoor en kyk hoe my dogter, Lianie van Wyk Scheepers (14) modelwerk doen.

• Wat het jou laat besluit om dit te doen?
My dogter was beslis die inspirasie agter dit. Ons ondersteun mekaar in alles en sy het gevra dat ek aan die kompetisie moet deelneem. ‘n Verdere dryfkrag daar agter was Vrouemaand en ek wou bewys dat ‘n mens wel iets kan vermag as jy net die kans neem.

• Watter waarde heg jy aan Vrouedag en Vrouemaand?
Vir my is Vrouedag baie spesiaal. Ek is nie net ‘n vrou nie, maar ‘n vrou met uithouvermoë, ‘n vrou met ‘n hart wat kan glo, ‘n vriendin wat altyd regstaan en bo alles, die volmaakte skepping van God. Ons as vroue moet mekaar bystaan en ondersteun waar ons kan.

• Wat is jou boodskap aan alle vroue?
Maak nie saak waardeur jy gaan nie, jy is spesiaal, uniek, mooi en beste van alles; volmaak geskape. Moet nooit opgee nie, daar is altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel.

• Watter stokperdjies beoefen jy graag?
Ek hou van sing, stap, draf en ek lees baie graag ‘n goeie boek.

• Wat is jou beroep?
Ek is ‘n skoonheidsterapeut.




ALSO READ: RATA holds encouraging Women’s Day event

ALSO READ: Phoenix Netball Club holds annual charity day at Mother’s Nest

Exit mobile version