Motorfietsryer beroof na hy kabel oor pad tref

Die polisie ondersoek verskeie voorvalle waar bestuurders, danksy styf gespande toue of kabels oor die pad, van hul motorfietse afgeruk was.

‘n Bestuurder van ‘n Checkers Sixty60 afleweringsmotorfiets was verlede Vrydagaand die nuutste slagoffer van motorfietsdiewe wat in die dorp bedrywig is.

In dié voorval, wat in New Kleinfonteinweg, Leachville plaasgevind het, is daar ‘n kabel oor die pad gespan wat die bestuurder van sy motorfiets afgeruk het.

Die Herald het voorheen berig oor hierdie metode wat gebruik word om motorfietsryers van hul motorfietse af te ruk, waarna die diewe toeslaan (Tou oor pad gespan, motorfietsryer beseer en beroof).

Mthulisi Ncube (42) het aan die Herald vertel hy het ongeveer 20:00 agter ‘n voertuig gery. Hy het nie die staal kabel oor die pad gesien nie. Nadat hy daarin vasgery en geval het, het hy dadelik stemme gehoor.

Drie mans het in sy rigting gehardloop en hom probeer gryp maar hy kon daarin slaag om weg te hardloop.

“Ek het gesien hoe die mans my motorfiets in die veld instoot,” het Ncube gesê.

Hy het hulp by ‘n naby geleë huis gekry, waarna hy na die Brakpan SAPD geneem is om die voorval aan te meld.

Ncube het beserings aan sy hande en bene opgedoen.

“Ek is later saam met lede van die SAPD terug na die toneel waar ons die kabel gevind het, wat die diewe gebruik het,” het Ncube gesê.

Daar was op 10 Mei ‘n soortgelyke voorval, ook om 20:00 die aand en ook in New Kleinfonteinweg.

’n Groep mense het, nadat die motorfietsryer geval het, as gevolg van ‘n tou wat oor die pad gespan is, te voorskyn gekom en hom verjaag waarna sy motorfiets ter waarde van R32 000 gebuit is.

Daar was ook gevalle in Main Reefweg waar dieselfde taktiek gebruik is om motorfietsryers te beroof.


LEES OOK: SAPS employee health and wellness members awarded for excellence


Een so ‘n slagoffer was Andrew Stander, wat in Mei net voor 20:00 op pad na sy woonplek in Brakpan-Sentraal was, toe die voorval plaasgevind het.

Stander is van sy swart Honda CBR300 motorfiets afgeruk toe hy in ’n gespande tou vasgery het. Hy het verskeie beserings opgedoen.

Na dié voorval het lede van die Brakpan Gemeenskappolisiëringsforum en die SAPD bome in Mainreefweg gaan afsny in ‘n poging om verdere voorvalle te voorkom.

Daar was ook ‘n voorval op 12 April waar ‘n ander motorfietsryer skuiling gaan soek het nadat hy van sy motorfiets afgeruk is.

Hy moes toekyk hoe sy motorfiets, ter waarde van R17 000, deur ‘n groep mans weggestoot word.
Die voorvalle word deur die SAPD ondersoek.


LEES OOK: New robbery syndicate in town, hears stakeholders’ meeting

Exit mobile version