Sonneveld Akademie leerders uitblink by skopboks kampioenskap

Die twee leerders het albei in George aan die KOSA SA kampioenskappe deelgeneem.

Zander van Staden en Jayden Bezuidenhout, twee Graad 10 leerders aan Sonneveld Akademie, het albei podium plekke behaal by die Kickboxing Organisation of South Africa (KOSA) SA Ope Kampioenskappe.

Jayden het ‘n eerste plek behaal in die 72kg gewigsklas, en Zander ‘n tweede en derde plek in die 80kg gewigsklas.

Die kampioenskappe het op 6 en 7 Julie plaasgevind in die George burgersentrum en was die eerste KOSA nasionale kampioenskap. Albei het in die o16 wit tot groen belt afdeling deelgeneem.

Die twee leerders is deel van die Wolfpack Kickboxing Dojo in Brakpan Sentraal, onder die leiding van Sensei Clifford Bezuidenhout, Jayden se pa. Clifford werk tans aan sy vierde Dan.

“Ek het begin met skopboks wat ek het geen ander sport gedoen nie,” het Zander vertel.

“Ek loop maar in my pa se voetstappe. Hy het in Covid tyd die klub in sy garage oopgemaak, en toe later by my ouma se winkel. Kompetisies is ook aangebied,” het Jayden verduidelik.


Jayden Bezuidenhout met sy medaljes.

As dit kom by ander stokperdjies en belangstelling, doen Zander kuns as ‘n vak en graag by die huis ook, maar Jayden se stokperdjies behels oefen.

Zander se gunsteling vak op skool is fisiese wetenskappe, en Jayden s’n is besigheidstudies.

Zander se grootste inspirasie is die bokser George Foreman, en Jayden s’n is beide sy pa, wat al ‘n paar keer nasionale kampioenstatus bereik het, en Mohammed Ali.

“As ek raad kon gee vir iemand wat graag skopboks wil begin – moenie te hard fokus op goed wat jy nog nie kan doen nie. Moet ook nie fokus op jou opponent se belt kleur of sy grootte nie, net op sy vaardighede,” het Jayden verduidelik.

“Ek sou ook sê fokus op jou eie tegniek, en moenie iemand probeer naboots nie. Jy moet doen wat werk vir jou,” het Zander uitgebrei.

“In die begin moes ons staatmaak op iemand anders vir geleënthede, maar toe sensei Clifford sy tweede Dan kry en sy eie dojo oopmaak het dit vir ons baie meer geleënthede geskep,” het Zander gesê.

Exit mobile version