Local newsNews

Inwoner (72) sterf tydens parkrun

‘n Gedenk wedloop word môre (Saterdag) vir Koos gehou by die Carnival City parkrun om 08:00.

Hy het gedoen waarvoor hy ‘n passie gehad het tot op die einde. Dít is hoe nabye familie en vriende vir Koos Coetzee (72) sal onthou.

Dié inwoner van Dalpark 1 was ‘n bekende atleet wat oorlede is juis terwyl hy sy geliefde sport beoefen het.

Koos het dit geniet om parkruns te doen waarvan hy 76 voltooi het.

Hy was op 29 Junie besig met die Carnival City parkrun (waarvan hy 30 voltooi het) en het ongeveer 500m voor die einde inmekaar gesak.

Die organiseerders was onmiddellik by om bystand te verleen maar dit was tevergeefs. Hy is op die plek dood verklaar. Hy was getroud met Issie (71) en hulle sou op 8 Julie hul 52ste huweliksherdenking gevier het.

Koos is in Johannesburg gebore en het in Suidheuwels grootgeword. Hy het van jongs af in sport uitgeblink.

Hy het onder andere rugby gespeel vir die Diggers Klub en aan talle fietsry wedrenne deelgeneem, maar hardloop was sy groot liefde.


Koos Coetzee se naam verskyn op die Comrades Green number Club Roll of Honour saam met onder andere dié van Bruce Fordyce vir die 30 Comrades wedlope wat hy voltooi het.

Hy het in 1986 by die Alberton Atletiek Klub aangesluit waar hy tot met sy afsterwe nog ‘n lid was.

Koos het sy eerste Comrades Maraton medalje in 1988 ontvang.

Hy het ook deelgeneem aan wedlope soos die Two Oceans Marathon (vyf voltooi), Mont-Aux-Sources Berg Wedloop (drie voltooi), Harrismith Berg wedloop (15 voltooi) en Dawn to Dusk.

Hy het ook sy dubbele permanente nommer (vir 20 of meer wedlope voltooi) vir die Om die Dam Ultra Marathon, Loskop Ultra en Vaal Marathon gehad.

In 1999 het hy sy 10de Comrades voltooi en sodoende sy groen nommer verdien.

Wat dié geleentheid meer spesiaal gemaak het is die feit dat oudste dogter, Lily Coetzee (51) op dié dag haar eerste Comrades voltooi het.


LEES OOK: Jong kinders help fluks om park skoon te kry


In 2009 word geskiedenis herhaal toe hy sy 20ste Comrades voltooi en dié keer was dit sy jongste dogter, Veronica Coetzee (48) wat haar eerste Comrades gehardloop het.

Koos het in 2019 sy 30ste Comrades voltooi, wat ook sy laaste een was.

Sy naam verskyn op die Comrades Green number Club Roll of Honour saam met onder andere dié van Bruce Fordyce vir die 30 Comrades wedlope wat hy voltooi het.

Dit was vir hom ‘n groot eer om sy naam te sien en vir Veronica te ondersteun met haar 10de Comrades hierdie jaar.

Beide sy dogters se liefde vir sport kom van pa Koos af en hy was altyd daar om hulle aan te moedig.

Hy was ‘n super trotse pa wat gereeld sy dogters ondersteun het terwyl hulle vir die vroue Lions en Blou Bulle spanne gespeel het.


Die magdom medaljes en trofeë in sy huis getuig van die groot sukses wat hy oor baie jare op sportgebied behaal het.

Hy en Issie het selfs in 2005 na London gevlieg om vir Lily te ondersteun toe sy gekies word om vir die Vroue Springbokspan te gaan rugby speel.

Visvang was ook ‘n stokperdjie wat hy geniet het en hy het gereeld saam met vriende en familie by die Vaaldam gaan visvang.

Hy was ‘n kranige motorfietsryer en het gereeld met sy 1981 Honda CBX 1000 Toyruns bygewoon. Later het hy vir hom ‘n Harley Davidson aangeskaf.

Hy was ‘n paneelklopper van ambag en het sy eie besigheid in Germiston vir meer as 35 jaar bedryf tot sy aftrede.


LEES OOK: Collect your impounded car before it’s gone


Een van sy projekte waarmee hy homself besig gehou het na sy aftrede, was om ‘n 1938 Chevrolet te restoureer. Hy was ‘n gereelde gesig by die Just Wheels Motorklub met sy Chev.

“Hy was altyd gewillig om mense te help; hetsy dit was met karre herstel, of om mense en familie te kry om saam te hardloop,” het Lily gesê.

“Hy was voorwaar ‘n inspirasie vir die jonger hardlopers en ‘n legende in die hardloop gemeenskap.”

Sy begrafnis was verlede Donderdag vanuit die NG kerk, Kaleo.

• ‘n Gedenk wedloop word môre (Saterdag) vir Koos by die Carnival City parkrun om 08:00 gehou.


LEES OOK: Join Brakpan SAPS, CPF and make a difference this Mandela Day

Related Articles

Back to top button