Jong kinders help fluks om park skoon te kry

Skoon Brakpan beywer om die dorp skoon te kry.

Terwyl meeste kinders van die dorp die wintervakansie geniet, was daar ‘n groepie jongelinge wat verlede week hul tyd heel anders deurgebring het.

Lede van Skoon Brakpan (Clean Brakpan) was sedert die begin van verlede week in Brakpan-Sentraal besig om die gebied wat grens aan die afgebrande Brakpan Rolbalklub en waar die tennisbane eens was, skoon te maak.

Groot was die verbasing van die lede toe ’n groepie jong kinders nadergestap het en gevra het of hulle kon help.

Die kinders wat in ’n huis en woonstelle naby die gebied, wat skoongemaak is, woon is tussen die ouderdom van 10 en 13 jaar en het nie geskroom om vir twee dae fluks te help nie.

Rdl Riaan van Zyl wat self betrokke was, het gesê dit was absoluut verblydend om die jong kinders se entoesiasme te beleef.


LEES OOK: Support a pawsome cause


“Hulle het ons genader en gevra of hulle ook swartsakke kon kry om te help rommel optel,” het Van Zyl gesê.

“Die kinders het regtig met mening ingeklim en fluks gehelp.”

Amoré Brits (12) het vertel sy het gaan help want sy wou graag sien dat die plek mooi skoon is.

“Ons wil nie hê dat ‘hobo’s’ hier slaap nie. Daar is nou die dag amper ingebreek by een van die huise. Ons wil ’n veilige plek hê waar ons kan speel,” het Amoré gesê.


LEES OOK: City brings together stakeholders for safety at schools


Junior Myetiso (12) het op sy beurt vertel hy was verveeld by die huis en het besluit om saam met die ander kinders ook te help.

“Ons wil nie in ‘n vuil dorp bly nie en ons help ook die gemeenskap,” het hy gesê.

Johan Brits (13) het gesê dat hy graag sou wou sien dat die plek skoon is en ’n beter speelplek vir kinders sal wees. Hy het glad nie omgegee om te help nie.

Skoon Brakpan beywer om die dorp skoon te kry. Vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak, skakel 068 881 9389 of stuur ‘n epos na cleanbrakpan@gmail.com of besoek die op Facebook @Clean Brakpan of TikTok @clean.brakpan

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version