Local newsNews

Bring jou kant om dorp reg te ruk

Die groep steun sterk op finansiële donasies om hul projekte aan die gang te hou.

Skoon Brakpan (Clean Brakpan) sit môre (Saterdag) die enorme taak voort om die Brakpan Begraafplaas reg te ruk.

Die organisasie wat die afgelope maande ‘n daadwerklike verskil in die dorp gemaak het benodig egter vrywilligers om hand by te sit.

Die groep het reeds ‘n begin gemaak by die begraafplaas en hul harde werk is vanaf Prince Georgelaan sigbaar.

Die taak wat voorlê is egter enorm. Die natuur het feitlik die begraafplaas oorgeneem en die begraafplaas in ‘n mini-oerwoud omskep met boom- en plantwortels wat oor grafstene groei en deur die plaveisel breek. Op plekke is die graftes skaars sigbaar.

Daar is wel gedurende Maart instandhouding deur die munisipaliteit gedoen deur die gras voor die begraafplaas te sny.


Nog ‘n bekende gesig by ie skoonmaak projekte is raadslid Riaan van Zyl. In die agtergrond is André Smit. Die foto is geneem toe die groep onlangs begin het om die Brakpan begraafplaas onder hande te neem.

Bosse en oorgroeide bome is ook uit die ouer deel van die begraafplaas onder bedwang gebring. Min tot niks is egter sedertdien gedoen nie.

Volgens Lisa Jordaan, medestigter van Skoon Brakpan, moet die gemeenskap betrokke raak sodat hulle self kan sien hoe die laaste rusplek van hul geliefdes erg verwaarloos en geminag word.

“Dit is erg. Dit gaan maande neem om die begraafplaas reg te kry. Dit is regtig in ‘n skokkende toestand,” het sy in ‘n onlangse onderhoud met die Herald gesê.

Sy het ‘n beroep op die publiek en besighede gedoen om betrokke te raak by die groep en te help waar moontlik.

“Ons het soveel hande en toerusting as moontlik nodig. Ons is baie dankbaar en het groot waardering vir mense wat ons altyd ondersteun,” het sy bygevoeg.

Lisa het Dalview inwoner, André Smit (69) as voorbeeld gebruik van ‘n inwoner wat nie skroom om moue op te rol nie.

André het op sy beurt aan die Herald gesê dat alhoewel hy in September sy 70ste verjaarsdag vier, weerhou dit hom glad nie daarvan om te help nie.


Die begraafplaas sien baie sleg daarna uit.

“Ek het ‘n heupvervanging gehad en ‘n rugoperasie ondergaan maar dit help jou nie om elke dag by die huis te sit en niks te doen nie,” het André gesê.

Dié flukse inwoner, wat ook aktief by die gemeenskappolisiëringsforum en ander organisasie betrokke is, moedig die inwoners van die dorp aan om by Skoon Brakpan aan te sluit of die groep by wyse van skenkings te ondersteun.

“Ons kan nie net agteroor sit en kyk hoe dinge agteruit gaan nie. Vele hande maak ligte werk. Elke bietjie hulp gaan op die einde van die dag ‘n groot verskil maak,” het André gesê.

Die groep sal môre (Saterdag) asook op 20 Julie by die begraafplaas werksaam wees vanaf 08:00. Vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak, skakel 068 881 9389 of stuur ‘n e-pos na cleanbrakpan@gmail.com of besoek die groep op Facebook @Clean Brakpan of TikTok @clean.brakpan.

Die groep steun ook sterk op finansiële skenkings om hul projekte aan die gang te hou. Die bankbesonderhede vir skenkings is Skoon Brakpan, Capitec besigheidsrekening, rekeningnommer 1051773016, takkode 450105, lopende rekening.



ALSO READ: Stap vir ‘n goeie doel

ALSO READ: KleuterZone hou loopbaandag

Related Articles

 
Back to top button