Local newsNews

Rico: Só is hy gevind, Mienkie sê dankie

Die Herald het op 22 Junie met Mienkie Barker, Rico se eienaar, gesels om die volle verhaal van sy opsporinng en pad terug huis toe te kry.

Daar was verlede Vrydag groot verligting en vreugde toe Rico, die vermiste Cocker Spaniel uiteindelik opgespoor is.

Die Herald het sedert die ondersteuningshond van Mienkie Barker, wat op 5 Junie vanaf haar huis in Walkdenstraat, Brakpan-Noord vermis geraak het, daaroor berig.

Die gemeenskap van Brakpan maar ook mense van heinde en ver het asem opgehou en onverpoos na Rico gesoek.

Na vele rande se brandstof wat uitgery is, honderde pamflette wat versprei is, ‘n massiewe Facebook veldtog en selfs ‘n paar vals alarms is Rico uiteindelik Vrydag deur ‘n man, wat in ‘n informele nedersetting in Brakpan-Noord bly, gevind.

Nicci Bowyer en Natasha Winkworth se K9 opsporingshond, Loki, het Rico se reuk die Woensdag opgetel agter die skietbaan in Brakpan-Noord en die soektog is op daardie gebied gekonsentreer.


Die man wat vir Rico gekry het wys na waar hy in die biesies weggekruip het, vermoedelik om veldbrande te ontsnap.

Nicci en Natasha bied opsporingsdienste privaat aan, met Loki wat spesiaal opgelei is om diere op te spoor.

Pamflette is daarna in dié gebied versprei asook naby die Jan Smuts Dam waar een man wat naby die skietveld bly laat weet het hy het ‘n hond uit die biesies gehoor kerm.

Dié man het ‘n paar keer teruggekeer om die hond te soek en Vrydagoggend, op pad na sy werk toe, uiteindelik vir Rico opgespoor.

Hy het Rico na sy huis geneem om hom veilig te hou, waarna hy iemand se foon geleen het om vir Mienkie te bel met die blye nuus. Raymond de Wet, wat vir ‘n derde dag gehelp het met die soektog na Rico, het terselfdertyd by Mienkie opgedaag.

Hulle het in sy voertuig gespring en na Sherwood Pick n Pay gery om vir die man, soos afgespreek, te ontmoet.


Rico in die kar net nadat hy aan Mienkie Barker terugbesorg is.

Die man het hulle meegedeel dat hy Rico by sy huis het maar dat hy bang was dat die hond hom sou byt as hy hom sou dra.

Mienkie het voorgestel dat hy hom met ‘n kombers toegooi sodat hy nie kan byt nie, en die man het terug gehardloop en Rico gaan haal.

“Toe hy terugkom en ek sien die pote by die kombers uitsteek het ek geweet dis my Rico,” het Mienkie gesê.

“Rico was verbouereerd en het eers besef dit is ek wat hom vashou toe ek hom op die tafel neersit by die veearts,” het Mienkie Saterdag in ‘n onderhoud met die Herald vertel.

Die man, wat anoniem wil bly, het die kontant beloning ontvang.


LEES OOK: Rico is gevind!


Buiten brandwonde aan Rico se pote en neus, en bytplekke van insekte aan sy stert, tesame met ontwatering en wanvoeding, is Rico ongedeerd en aan sy lyftaal kan mens sien hy is bly om weer veilig te wees by die huis.

“Hy hou nie op drink nie, hy moes seker so dors gewees het,” sê Mienkie.

Rico se storie is wyd versprei, met een Facebook plasing wat tot 30 000 interaksies gekry het, en mense regoor die wêreld, van London na Dubai, Namibië en regoor Suid-Africa het kontak gemaak om uit te vind hoe hulle kon help.

Nou nog kry sy vele boodskappe daagliks van mense wat vra oor Rico se toestand en van gelukwense omdat hy gevind is.

“Ek kan nie elkeen op Facebook wat my aangemoedig het individueel bedank nie, maar ek wil hulle nog bedank,” het sy gesê.


Anette van Dyk, Rico en Mienkie Barker by die veearts. Anette het sy veeartsfooie betaal.

Selfs na Rico gevind is het mense nie gehuiwer om te help nie. Adele Lombaard het vir Mienkie geld inbetaal om haarself en Rico te bederf, en Anette van Dyk van Pretoria het Rico se veeartskoste gedek.

Doggy Palace in Brakpan het ook vir Mienkie gebel tydens die onderhoud Saterdag om ‘n gratis bad en skeer vir Rico aan te bied, vir wanneer sy wonde genoeg herstel het.

Mienkie bedank ook vir Reg Solomon van House of Pawn vir die groot bydrae wat hy gemaak het vir die kontantbeloning wat uitgereik is, Twanel Kwaatjie van Creative Resin vir Rico se nuwe naamplaatjie, Endless Pawsabilities Animal Communications vir hul professionele raad, en Shayna Isaac wat K9 Loki se fooie betaal het.

“Natuurlik ook die mense wat my elke dag help soek het van die begin af – Ankus, Pierre en Johané Terblanche asook Sindy, Ashanka en Diago Strydom.

“Ek wil ook dankie sê vir my familie en vriende,” het Mienkie gesê.



LEES OOK: Opvolg: Soektog na spesiale hond lewer niks op

LEES OOK: Soektog na vermiste ondersteuningshond vind môre (Saterdag) plaas

Related Articles

 
Back to top button