Local newsNews

Anker leerder is Laser Run Wêreldkampioen

Die Graad 11 leerder het verstom met sy vertoning in Zhengzhou, China.

JPvan der Berg, ‘n Graad 11 leerder aan Hoërskool die Anker, het onlangs in Zhengzhou, China deelgeneem aan die UIPM Laser Run World Championships, waar hy in die o19 afdeling ‘n eerste plek behaal het.

Die kompetisie het op 8 en 9 Junie plaasgevind en JP het kort daarna weer op Suid- Afrikaanse bodem geland as die nuwe o19 wêreldkampioen.

Vir JP was die beste deel van die ondervinding om ander mense van regoor die wêreld te kon ontmoet tydens die kampioenskappe.

Laser run is ‘n sport waar atlete afwissel tussen hardloop om ‘n baan en skiet op teikens met ‘n laser-pistool.

Die sport is ook deel van die tradisionele vyfkamp kombinasie, wat ook skerm (fencing), skou-spring (equestrian show-jumping) en swem bevat.

“Ek het eintlik net gegaan om daar te wees en die geleentheid te geniet, ek het nie gemik om te wen nie, so dit was nogal ‘n verrassing,” het JP in ‘n onderhoud met die Herald gesê.

“Ek egter nog steeds hard geoefen, en mens wil altyd wen, maar ek het nie al my hoop daarop gesit om te wen nie,” verduidelik hy.

“Ek wil graag begin deelneem aan die ander vyfkamp items sodat ek eendag kan kwalifiseer vir die Olimpiese Spele.”

JP se oefenprogram hou hom die hele week besig.

Maandag tot Donderdag oefen hy om die baan, waar hy werk aan spoed en afstand, en Vrydae werk hy net aan afstand.

Saterdae is uiteengesit vir krag oefeninge, soos bulte uit-hardloop, en Sondae oefen hy sy uithouvermoë saam met sy vriende.

Sondae is vir hom die lekkerste, want dis ‘n rustige lang-afstand draf-sessie, waar hy gemaklik met sy vriende kan gesels terwyl hulle draf.


J van der Berg na sy wen in sy “victory-lap”.

JP werk ook soms met gewigte en strek oefeninge om te verseker dat sy liggaam holistiese fiksheid handhaaf.

Akademies is JP goed op dreef en sy gunsteling vak is elektronika, wat in die skool se elektriese vaardighede-afdeling aangebied word.

Sy ouers is sy grootste ondersteuners, en sy grootste inspirasie is Wade van Niekerk.

“Hy inspireer my want hy kom van moeilike omstandighede af, maar het nog steeds deur harde werk reuse sukses behaal,” verduidelik hy.

As JP enige raad kon gee sou dit wees om nie op te gee op jou drome nie, al voel dit partykeer of jou harde werk niks uit kry nie, wees net geduldig en die resultate sal wys.

“Niks van die sou moontlik gewees het sonder die ondersteuning van my familie, naastes en borge nie,” het hy mee afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button