Local newsNews

Opvolg: Soektog na spesiale hond lewer niks op

Die soektog vir Rico is teen druktyd steeds sterk aan die gang.

Alle pogings om ’n inwoner van Brakpan-Noord se vermiste Cocker Spaniel, wat as ondersteuningshond dien, op te spoor was tot dusvêr onsuksesvol.

Mienkie Barker se hond, Rico wat op 5 Junie vermis geraak het, is nog steeds soek ten spyte van ‘n intense soektog wat Saterdag plaasgevind het.

Rico het uit Mienkie se erf in Walkenstraat vermis geraak, waarna hy een keer in die omgewing deur ‘n ander vrou opgemerk is maar daarna nie weer nie.

Rico bied al vir 10 jaar emosionele ondersteuning, en was ’n steunpilaar vir Mienkie deur operasies en beserings, ‘n amputasie van haar arm, misdaad en geweld, verlies, en die agteruitgang van haar man, Robert Barker, se gesondheid weens emfiseem.

Robert is tans in die intensiewe sorgeenheid van ‘n hospitaal, wat bydra tot Mienkie se kommer. Saterdag se soektog, wat wyd op sosiale media gedeel is, was tevergeefs want net ’n handjievol mense het opgedaag om te help soek.


Rico by Mienkie Barker voor die amputasie van haar arm.

Tog is daar opnuut en intens gesoek na Rico. Mienkie het ook intussen al bakkies kos en komberse in die omgewing uitgesit om Rico te probeer lok, en pamflette laat druk en uitgedeel.

Ten spyte van die min mense wat opgedaag het vir die soektog, reik mense baie uit om op ander maniere ondersteuning te bied.

Een vrou het haar eie Spaniels gebring om Rico te probeer uitsnuffel, ‘n vrou uit KwaZulu-Natal het ‘n bydrae gemaak vir die kontant beloning, en ‘n ander vrou het bygedra om ‘n K9-hond te huur om die soektog aan te sterk.

“Ek wil net Rico terug hê, of weet hy word goed versorg,” het Mienkie gesê.


LEES OOK: Soektog na vermiste ondersteuningshond vind môre (Saterdag) plaas


“Solank iemand net so mooi na hom kyk soos wat ek gedoen het. Hy is ‘n binne-hond en het nog nooit buite geslaap nie.

“Wanneer ek soggens koffie gedrink en beskuit geëet het, het hy altyd die laaste stukkie beskuit en slukkie koffie gekry,” het Mienkie gesê.

Mienkie het Brakpan-Noord al plat gery in haar soektog na Rico. Sy kyk selfs gereeld by die DBV of iemand hom dalk daar afgelaai het.

Sy is bekommerd dat iemand Rico dalk gesteel het, en dat dít die rede is waarom hy nie opgespoor kan word nie.

Om dié rede is Mienkie bereid om ‘n kontantbeloning van R2 500 te bied aan enigeen wat Rico veilig aan haar terug besorg.

Persone wat bereid is om die soektog te ondersteun kan vir Mienkie kontak by 066 207 9000.

Related Articles

 
Back to top button