Local newsNews

Soektog na vermiste ondersteuningshond vind môre (Saterdag) plaas

Vrywilligers kan om 11:00 voor Mienkie Barker se huis te Walkdestraat 41 bymekaar kom.

‘n Inwoner van Brakpan-Noord, Mienkie Barker, is ontroosbaar en rasend van kommer nadat haar geliefde hond, Rico, Woensdag, (5 Junie) vermis geraak het vanuit haar erf te Walkenstraat terwyl sy in die hospitaal was.

Rico, ‘n Cocker Spaniel wat al vir 10 jaar deel is van Mienkie se huishouding, is ‘n besondere sensitiewe hond wat sy eienaar se toestand skerp aanvoel en altyd groot emosionele steun bied.

Dié steunpilaar was al daar vir Mienkie deur operasies en beserings, ‘n amputasie van haar arm, ongelukke, motorkapings, rooftogte, die verdrinking van haar huishulp se kind in hul swembad, haar man Robert Barker se struweling met emfiseem, en vele meer traumatiese gebeurtenisse.

“Sy pels hou vele trane,” het Mienkie in ‘n Facebook plasing geskryf.

“Hy beteken vir my meer as ‘n mens.”

Daar word sedert Rico se verdwyning onverpoos gesoek sonder sukses.

‘n Groot poging word môre (Saterdag) van stapel gestuur wanneer vrywilligers om 11:00 by Walkdenlaan 41 bymekaar gaan kom, om na Rico te soek.

Die vrywilligers sal vandaar in groepe opgedeel word.

Persone wat bereid is om die soektog te ondersteun kan vir Mienkie kontak by 066 207 9000.

‘n Beloning word ook aangebied vir die persoon wat Rico veilig aan sy eienaar kan terugbesorg.




LEES OOK: Longontsteking eis hartsmens

LEES OOK: Inbrekers slaan bejaarde (79) met koevoet, dreig om hom te skiet

Related Articles

Back to top button