Local newsNews

Longontsteking eis hartsmens

Wanneer Maria en haar vriende 'n melkskommel geniet het, moes haar honde ook kry.

Die Dalview inwoner wat vroeër vanjaar deur ‘n dwaalkoeël in haar bed getref is, is op 31 Mei aan longontsteking oorlede.

Die Brakpan Herald in die uitgawe van 8 Maart berig oor die voorval toe Maria van Eeden (48) se honde waarskynlik haar lewe gered het, toe ‘n dwaalkoeël haar kopkussing getref het.

Die honde het haar bed oorgeneem en verhinder dat sy met haar kop op die kussing, waar die koeël getref het, geslaap het. (Honde wat bed oorneem red dalk eienaar se lewe).

Sy is oorlede net voor sy haar tweede kleinkind vir die eerste keer kon ontmoet.

Maria, wat onder geliefdes bekend was as ‘n mens met ‘n sagte hart en ‘n kranige Bloubul-ondersteuner, is op 6 Junie ter ruste gelê na ‘n begrafnisdiens by die Woord en Lewe Kerk.


LEES OOK: Blind SA helps 1 630 blind and partially sighted people vote


Sy word onthou deur haar dogter, Vanessa Roberts, haar skoonseun Juandrey Roberts, hulle kinders Veleska en Arikha, en haar beste vriendinne Cecilia ‘Susan’ Smuts en Desiré Coetzer, wie haar liefderyk ‘Maraai’ genoem het.

Sy word ook onthou deur vriende en familie as iemand met ‘n taxi-hart, wat altyd plek gehad het vir nog iemand en nog liefde.

Buiten haar groot liefde vir rugby en mense was Maria ook baie lief vir haar honde, Maximus, Alvin en Lilo, wat altyd haar bed oorgeneem het.

Desiré het selfs op die begrafnisdiens gedeel dat die honde hul eie melkskommels moes kry wanneer die drie vriendinne saam melkskommels gaan kry het.

Gelukkig kon die familie die drie bedorwe brokkies na ‘n ewe liefdevolle huis neem na Maria se afsterwe, maar daar is beslis geen twyfel dat niemand ooit vir Maria kan vervang as eienaar nie.

“Sy het wel nie haar laaste kleinkind ontmoet nie. Sy was klaar siek toe ek opgeneem is om geboorte te gee,” vertel Vanessa.

“Sy wou nie hospitaal toe kom terwyl sy siek was nie, maar sy was baie opgewonde.

“Sy het vreeslik baie moeilike tye in haar lewe deurgemaak, maar sy het aanhou baklei en altyd ‘n positiewe ‘mindset’ probeer hou.

“Sy was bitter erg oor rugby, sy was ‘n groot Bloubul-ondersteuner, en sy was vreeslik lief vir haar honde,” vertel sy verder.

Maria was baie bly om ‘n ouma te wees, en volgens Vanessa was ouma-wees haar nuwe hoop en grootste motivering. Desiré het vertel dat sy Maria baie mis.

“Sy was deel van my daaglikse roetine, en my hartsmens,” het sy gesê.

Cecilia sê ook hoe seer haar hart is.

“Sy is baie te vroeg van ons geneem,” sê sy.

Related Articles

Back to top button