Inbrekers slaan bejaarde (79) met koevoet, dreig om hom te skiet

Hy is vasgebind en ‘n kombers is oor hom gegooi.

‘n 79-Jarige inwoner van Buxtonlaan, Dalview is Vrydagoggend in die huis deur drie mans oorval, wat hom met ’n koevoet geslaan en vasgebind het voordat hulle verskeie items uit die huis geroof het.

Die bejaarde was om ongeveer 10:30 alleen tuis in die badkamer toe hy ‘n geluid in die kombuis gehoor het.

Toe hy ondersoek instel, het hy hom vasgeloop in drie mans wat reeds in die kombuis was.

Volgens die bejaarde se dogter (43) het een van die inbrekers haar pa hard met ‘n koevoet oor die arm geslaan.
Hy is daarna vasgebind en ‘n kombers is oor hom gegooi.

Die inbrekers het ook gedreig dat hulle hom sou skiet maar volgens die bejaarde het hy nie ’n vuurwapen opgemerk nie.


LEES OOK: SANBS celebrates World Blood Donor Day


Die mans het verskeie huishoudelike items asook kontant en juweliersware bymekaar gemaak voordat hulle op die vlug geslaan het met die buit.

Volgens die dogter was haar pa vir sowat 10 minute vasgebind.

“Hy kon ’n motor se toeter hoor, waarna die mans uit die huis gehardloop het en daarna het alles stil geraak,” het sy vertel.

“Toe dit stil was, het hy opgestaan en kon hy daarin slaag om homself los te wikkel waarna hy ’n paniekknoppie vir ’n sekuriteitsmaatskappy geaktiveer het.


LEES OOK: CoE replaces bus coupons and cash payments with QR code


Hulp het gou opgedaag waarna die bejaarde se skoonseun van die voorval in kennis gestel is. Die koevoet het ‘n oop wond aan die bejaarde se arm veroorsaak, maar benewens dit was hy ongedeerd.

“Ons het my pa na ’n dokter geneem. Die wond is gelukkig nie diep nie, maar sy arm is erg gekneus,” het sy dogter gesê.

Volgens haar het die booswigte toegang tot die huis verkry deur ’n veiligheidshek oop te breek en die agterdeur oop te skop.

“Ons is baie dankbaar dat my pa nie erger beseer is nie,” het sy gesê.

Die voorval is by die Brakpan SAPD aangemeld en word ondersoek.

Exit mobile version