Local newsNews

Tou oor pad gespan, motorfietsryer beseer en beroof

Dit was nie die eerste voorval van sy soort die afgelope tyd nie en die Brakpan SAPD het motorfietsryers gemaan om versigtig te wees.

’n Motorfietsryer (25) is verlede Maandagaand beseer toe hy in ‘n tou, wat oor die pad in Main Reefweg net voor Plastic City gespan was, vasgery het.

Dit was nie die eerste voorval van sy soort die afgelope tyd nie en die Brakpan SAPD het motorfietsryers gemaan om versigtig te wees.

Andrew Stander was verlede Maandagaand net voor 20:00 op pad na sy woonplek in Brakpan-sentraal toe die voorval plaasgevind het.

Hy werk in Jet Park en ry gewoonlik nie die roete nie, maar omdat dit laat was, was dit vir hom ‘n vinniger opsie.

“Ek het in Main Reefweg gery en daar was ’n motor voor my, net voor die pad ’n draai na regs maak om deur Plastic City te gaan,” het Andrew vertel.

“Dit was uit die aard van die saak donker maar daar was ook baie rook en ek het effe vinniger gery om saam met die motor te draai voordat ons deur Plastic City sou ry.

“Die volgende oomblik het ek die styf gespande tou oor die pad gesien maar dit was dit laat vir my hom enige aksie te neem.”

Andrew is van sy swart Honda CBR300 motorfiets afgeruk.

“Ek het geval en sowat 50m oor die pad geskuur met die motorfiets wat voor my oor die pad getrek het.

“Toe ek tot stilstand kom was ek nog verdwaas maar ek het stemme gehoor en my eerste instink was om so gou moontlik weg te kom.

“Ek het besef dat ek opsetlik van my motorfiets afgedwing is en dit sou nie wys wees om te probeer veg teen hoeveel mense daar ook al was nie.”


Wonde aan Andrew Stander se keel, wat hy opgeoen het toe hy in die styf gespande tou vasgery het.

Andrew het so vinnig as wat hy kon padlangs deur Plastic City gehardloop.

“Toe ek op ’n plek kom waar ek veilig gevoel het, het ek my foon uit my sak gehaal en my broer, Mathew (24) gebel. Hy het my kom oplaai en ons het na die plek gery waar ek geval het.”

Die motorfiets was reeds verwyder. Andrew is met beserings aan sy arms, nek en ribbes na die ’n hospitaal geneem en is later huis toe.

Hy het die voorval die volgende dag (verlede Dinsdag) by die Brakpan SAPD gaan aanmeld waar hy, volgens hom, topgehalte diens ontvang het.

“Ek het eers my verklaring afgelê en toe die mense in die aanklagkantoor hoor wat met my gebeur het, is ek na ‘n ander vertrek geneem en verder ondervra.


Andrew Stander is van sy swart Honda CBR300 motorfiets afgeruk toe hy in ’n gespande tou in Main Reefweg vasgery het.

“Hier het ek aan die polisiebeamptes gesê dat ek graag sou wou sien dat die bome langs die pad, waar die voorval plaasgevind het, afgekap word om toekomstige voorvalle te voorkom.

“Net daar en dan het die SAPD reëlings getref om die bome te laat afkap. ’n Polisie helikopter is ook ontbied om oor die area te vlieg in ’n poging om my motorfiets op te spoor.”

“Vir hierdie toewyding en onmiddellike reaksie het ek groot lof,” het Andrew, wat die SAPD vergesel het, gesê.

“Dit is eenvoudig briljant.”

Hy is wel sy motorfiets, wat sy enigste vervoermiddel was, kwyt maar hy is dankbaar dat hy nie erger seergekry of selfs op die plek beroof en moontlik aangerand is nie.


‘n Polisie helikopter is ook verlede Dinsdag ingespan om die gebied te fynkam.

Andrew se voorval was een van ten minste drie soortgelyke voorvalle wat die afgelope tyd by die Brakpan SAPD aangemeld is.

Op 10 Mei het ‘n motorfietsryer ook ongeveer 20:00 in New Kelinfonteiweg, Leachville in ‘n tou wat oor die pad gespan was vasgery. ’n Groep mense het, nadat hy geval het, te voorskyn gekom en hom verjaag waarna sy motorfiets ter waarde van R32 000 gevat is.

Op 12 April was daar nog ’n insident ook in Main Reefweg, ook ongeveer 20:00. Dieselfde tegniek is gebruik om die motorfietsryer te laat val waarna daar ook ’n groep mense uit die bosse verskyn het.

Die motorfietsryer het skuiling gaan soek en gesien hoe sy motorfiets, ter waarde van R17 000, deur die groep weggestoot word.

Die voorvalle is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.




ALSO CHECK: Just Wheels se opedag is ‘n treffer

ALSO CHECK: Dalpark Ext 1 residents reduce crime in their neighborhood

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button