Ma van vermoorde vrou praat oor haar ‘engelkind’

Die presiese omstandighede wat gelei het tot Nikita se dood is nog vir Vanessa onduidelik

Die ma van die jong vrou wat op 19 April grusaam vermoor is sê dat sy nooit die toneel, wat haar op die aand van die voorval begroet het, uit haar gedagtes sal kry nie.

“Toe ek my engelkind daardie aand in die pad sien lê, het ek net gedink dat dit nie my ‘baby’ kon wees nie,” het Vanessa Pugin (62) Dinsdagoggend aan die Brakpan Herald gesê.

Nikita Bezuidenhout (24) is die betrokke aand op die hoek van Springsweg en Farquarsonstraat, Rand Collieries vir dood agtergelaat.

‘n Lid van die Benoni Blitspatrollie, wat ongeveer 08:30 op pad huis toe was, het haar in die pad sien lê en stilgehou.

Hulp is dadelik ontbied maar sy is kort daarna aan beserings, onder andere aan haar kop, oorlede.

Twee mans (19 en 21) is kort daar na in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn in verband met die moord.


LEES OOK: Give a forgotten toy a second chance


Volgens Vanessa het sy en haar dogter saam met vier ander mense in ‘n onbewoonde huis gebly, nie vêr van die plek waar Nikita se liggaam gevind is nie.

Op die aand van die voorval het Vanessa na ‘n naby geleë winkel geloop, met die hoop om iets te kry om te eet.
Sy is werkloos en bedel om aan die lewe te bly.

“Nikita was siekerig en ek het mense gevra om by haar te bly,” het Vanessa vertel.

Die presiese omstandighede wat gelei het tot Nikita se dood is nog vir Vanessa onduidelik.

“Ek het ongeveer 08:00 begin terug stap na die huis, toe iemand wat ek ken na my toe aangehardloop gekom het en vir my gesê het dat daar groot moeilikheid by die huis is.

“Ek het begin hardloop en toe ek al die noodvoertuie se ligte sien het ek besef dat daar groot fout was. Tog het ek ook dadelik geweet dat dit my Nikita was wat iets oorgekom het.

“Ek het my kind daar in die pad sien lê. Dit maak nie saak dat sy 24 jaar oud was nie, sy was nog steed my ‘baby’, en om haar so te sien het my gebreek.

“Ons het nie die perfekte lewe gehad nie en Nikita het nie soos ‘n gewone kind grootgeword wat alles gehad het nie.

“Tog was sy ‘n liefdevolle mens met ‘n goeie hart. Sy het omgegee vir ander en wanneer sy iets gehad het om te deel sou sy nie geskroom het om dit te doen nie. Daardie twee mans het my engelkind van my af weggevat. Ek sal hulle nooit vergewe nie.”

Vanessa het ook nog nie weer teruggekeer na die huis waar sy saam met haar kind gebly het nie.

“Dit is net vir my te moeilik om terug te gaan na daardie plek waar ek en my Nikita ‘n bed gedeel het.”

‘n Familievriend het haar intussen ‘n dak oor haar kop gegee, waar sy vir eers ‘n veilige plek het om te bly.


LEES OOK: Decorating cookies ends Autism Awareness Month

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version