Local newsNews

Aries se diensgroep bring hul kant

Die 25 leerders wat dou voordag opgedaag het, het beslis hul kant gebring.

Die spreekwoord, vele hande maak ligte werk, is Saterdag bewys toe die Clean Brakpan Gemeenskapsprojek die area rondom die Dalview Tennisbane onder hande geneem het.

Die groep wat uit vrywilligers bestaan, het ‘n hele paar ekstra en gewillige hande gehad toe lede van Laerskool Die Arend se diensgroep opgedaag het om te help.

Die diensgroep van die skool bestaan uit Graad Ses leerders wat aangewys word, spesifiek met die doel om op verskillende wyses uit te reik na die gemeenskap en gemeenskapsdiens te verrig.

Die 25 leerders wat dou voordag opgedaag het, het beslis hul kant gebring en onder andere fluks gehark asook takke en gemors opgetel.


Abigail van Tonder, Hannei Botha en Nikita Nel het hard gewerk maar dit geniet.

“Ons is baie dankbaar vir die flukse kinders se hulp en die goeie voorbeeld wat hulle gestel het,” het Lisa Jordaan, ‘n komiteelid van die Clean Brakpan Gemeenskapsprojek gesê.

Sy het ook groot lof gehad vir Jaco van Wyk en sy gesin van Withok, wat met ’n trekker gehelp het en ook onderneem het om die park voortaan onder hande te neem.

Die groep van sowat 60 vrywilligers het koue lafenis in die vorm van roomys en koeldrank van Perry’ Supermark, wat geleë is langs die area wat skoongemaak is, ontvang.

Die gemeenskapsprojek is tot stand gebring deur die voorsitter van die Brakpan GPF, Tinus Jordaan en Kim van Zyl (ook ‘n GPF lid).


ALSO READ: Updated telephone numbers for Brakpan SAPS


Sedert die ontstaan daarvan is daar ’n opmerklike verskil aan parke, openbare plekke en sypaadjies in die dorp.

‘n Struikelblok vir die groep is ’n tekort aan vrywilligers en fondse om die skoonmaak-projekte aan te pak en daarmee te volhou.

Die publiek en veral besighede word uitgenooi om in te skakel en sodoende die dorp, week na week beter daarna te laat uitsien.

Besighede of individue wat hul weg oopsien om met skenkings te help of self werk te verrig, kan 068 881 9839 skakel.


Related Articles

 
Back to top button