Local newsNews

Egpaar vier 60ste troudag

Harry het nadat die egpaar kinders gehad het, deeltyds studeer om 'n ingenieur te word.

‘n Egpaar van Larrendale, Hettie (80) en Harry (85) van der Walt, het onlangs hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Om dié besondere mylpaal te vier, het die egpaar hul huwelik herbevestig in die teenwoodigheid van familie en vriende.

Hettie en Harry is in 1964 in die NG Kerk Brenthurst getroud en het hul onthaal in die stadsaal geniet.

Hul troufoto’s is in die pragtige tuine, wat destyds voor die stadsaal was, geneem. Die paartjie het mekaar in die kerk ontmoet, en soos die gesegde gaan, die koeël was deur die kerk.

Harry woon al van 1959 af in Brakpan, en Hettie ook sedert sy twee maande oud was.

“Sestig jaar is ‘n lang tyd maar dit het in ‘n oogwink verbygegaan. Ons sou dit nie gemaak het as ons nie die pad saam met die Here gestap het nie,” vertel Hettie.

Hulle probeer een keer per maand na hul vakansiehuis in Marloth Park te Mpumalanga gaan om weg te breek en tyd saam te spandeer.

In terme van stokperdjies is die twee steeds baie bedrywig. Harry ry fiets en het op 18 Februarie aan die Ride For Sight wedren in die 85 plus kategorie gery.

Hy het verlede jaar vir die 21ste keer die Argus Fietsry Toer gedoen, en is al vir drie jaar in ‘n ry eerste gewees in die 80 plus kategorie.

Hy het ook vir jare in sy jonger dae rugby en muurbal gespeel, maar moes ophou toe hy begin studeer het.

Hettie is dol daaroor om tuin te maak, en het vir baie lank ook blommerangskikkings gemaak vir geleenthede, wat groot bewondering gekry het en selfs pryse gewen het.


ALSO READ: Ekurhuleni se ‘halwe job’ is nou voltooi


Pottebakkery, muurbal en pluimbal tel onder die ander stokperdjies wat sy beoefen het en sy het dit ook geniet om te draf toe sy jonger was.

Harry het na sy troue met Hettie, en nadat hulle al kinders gehad het, deeltyds gestudeer om ‘n ingenieur te word.

Hy het van 08:00 tot 16:00 gewerk vir die staatsdiens, en dan na Pretoria gery vir aandklasse wat gereeld tot 22:00 geduur het.

Na klasse het hy huis toe gery, aandete geëet en dan verder studeer. Hy moes een jaar voltyds studeer na die aanvanklike vier jaar, en Hettie moes toé vir hom en die drie kinders sorg. Hulle is Ettiene (58), Jaques (57) en Morné (54).


Harry en Hettie van der Walt in die tuin op die dag van hul huweliksherdenking.

Hettie se gunsteling karaktereienskappe van Harry is dat hy hardwerkend is, pligsgetrou is, en dat mens op hom kan staat maak.

Harry s’n van Hettie is dat sy hom in alles wat hy doen ondersteun, en haar kook vernuf. Die twee glo sterk dat hul suksesse in hul lewens en verhouding nie uit hul eie vermoë bereik is nie, maar deur God se genade.

“Ek glo jy moet die koers aangee, maar die Here bepaal die bestemming,” het Hettie gesê.

Die egpaar het drie kinders, vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders wat almal by die herbevestiging teenwoordig was.



ALSO READ: Raise a future assistance dog and change a life forever

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button