Local newsNews

Kunswedstryd spog met nuwe baadjie

Die nuwe bestuurspan sien uit daarna om die wiel aan die rol te kry.

Die Brakpan Kunswedstryd is vanjaar, na ‘n afwesigheid van vyf jaar, terug.

Met harde werk wat die afgelope jaar agter die skerms plaasgevind het, is daar ook baie om na uit te sien.

‘n Splinternuwe webtuiste, wat op 5 Februarie in werking sal tree, asook ‘n meer moderne aanslag is maar twee veranderinge waaraan die bestuurspan gedurende 2023 baie aandag gegee het.

“Ons het ‘n nuwe, moderne aanslag op ons webtuiste aangebring en die sillabus is ook gemoderniseer met afdelings soos TikTok,” het die voorsitter van die Brakpan Kunswedstryd Elmarie Warnick verduidelik.

“Dan het ons ook nog tradisionele items soos Volkspele, maar daarmee saam word daar ook voorsiening gemaak vir tradisionele danse van enige persoon wat graag wil deelneem,” het sy bygevoeg.

Die ander bestuurslede wat gaan sorg dat dinge voortaan glad sal verloop is Theresa Lottering (sekretaresse), Karen Lues (tesourier) en Simoné Welding (sosiale media en bemarking).

Die Brakpan Kunswedstryd het sy ontstaan in 1968 gehad en is tweejaarliks aangebied.

“Ons beoog om dit nou jaarliks aan te bied,” het Warnick gesê.

“Alhoewel ons sekere aanpassings gemaak het, wil ons graag die tradisie van die kunswedstryd behou. Ons kuns afdeling het ook verander, in dié opsig dat leerders voortaan op hulle eie tyd die kuns items kan voorberei en op ‘n spesifieke datum inhandig. In die verlede moes deelnemers hul inskrywings by ‘n lokaal voltooi en kon soms nie klaar gekry het in die gegewe tyd nie,” het sy verduidelik.

Die Brakpan Kunswedstryd is vir die afgelope vyf jaar nie aangebied, weens onder andere die Covid-19 pandemie asook die volle bestuur wat, na baie jare wat hulle gedien het, bedank het weens aftrede, verhuising en so meer.

Die nuwe bestuur het eers verlede jaar ingetree en het dié tyd gebruik om voor te berei en aanpassings te maak, onder andere weens die feit dat die webtuiste wat net vir een jaar (2019) bestaan het aangepas en hersien moes word.

“Ons doelwit is om weer al die skole in Brakpan betrokke te kry soos in die verlede en ons het alreeds navraag van naburige skole ontvang. Dit is vir ons ook belangrik om vir elke deelnemer ‘n platform te skep waar hulle, hul kan uitleef in kultuur,” het Warnick verduidelik.

“Ons sien ook uit na ons nuwe TikTok-afdeling asook na die feit dat daar voorsiening gemaak word vir leerders met spesiale onderwys behoeftes (LSEN) vanaf Graad vier tot sewe,” het Warnick bygevoeg.

“Ons beoog ook om uit te brei en in die toekoms afdelings by LSEN skole aan te bied.”

Lees ook: Clean Brakpan movement goes full steam ahead

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button