Local newsNews

Onvergeetlike ondervinding vir koorlid

Die Anker leerder het koorsang baie geniet, maar roep nou halt om meer te fokus op akademie.

Carli Schutte, ‘n Graad Nege leerder aan Hoërskool Die Anker en lid van die Sing in Harmonie Nasionale Kinderkoor, het gedurende die feesseisoen ‘n toer na Europa onderneem.

Dié 14-jarige het saam met die koor deur Praag, Boedapest, Wene en Bratislava getoer. Daar het hulle aan verskeie kompetisies deelgeneem en in katedrale opgetree.

Die koor het teen skool kore en musiekskole gekompeteer, en by hul laaste bestemming, in Boedapest, het die koor die toekenning as die Beste Koor van die Europese Toer ontvang.

Die koor se dirigent is Karina Erasmus, wat ook die Tygerberg koor afrig.

Sy gee twee keer ‘n week vir elke koorlid aanlyn persoonlike stem- en sangopleiding, en dan kom die koor elke twee weke saam om as groep te oefen of op te tree.


Carli Schutte en die koordirigent, Karina Erasmus, met die beste koor van die Europese Koor trofee.

Carli vertel hoe die sangeres Demi-Lee Moore haar geïnspireer het om te begin sing, en voeg by dat haar toewyding aan die koor haar droom bewaarheid het.

Carli voel egter dat sy nou haar doelwit van internasionale optrede bereik het en dat sy vanjaar eerder wil fokus op akademie.

“As hulle ‘n stem nodig het sal ek uithelp, of as die skool ‘n koor kry sal ek deel word, maar ek wil nou meer tyd spandeer aan my skoolwerk,” het sy gesê.

Vir Carli was die hoogtepunt van die toer, wanneer hulle kon rondloop in die strate.

“Daar was baie monumente, kastele, straat kosstalletjies en Kersfees versierings oral in die strate. Praag was vir haar besonder mooi,” het sy vertel.


Carli Schutte en haar ma Tanya Puchert by die standbeelde van Saint Wenceslas in Praag. Fotos: verskaf.

“Ek het daarvan gehou om in die katedrale op te tree. Die geboue is baie mooi. My gunsteling stuk om te sing is die Reindeer Rap, waarin ek die rol van Dasher vertolk het.”

Toe hulle die beste koor toekenning in Boedapest ontvang het, was sy baie bly vir al haar mede koorlede.

“Dit was ‘n wonderlike avontuur om saam met almal te spandeer,” het sy gesê.

Uit die 76 senior kinderkoor lede kon net 48 deelneem aan die toer. Carli se familie en vriende het haar baie ondersteun in terme van finansies, maar die grootste bydrae tot die onkoste was deur haar ma, Tanya Puchert, se werkgewer.

“Hulle is baie ‘education’-georiënteer, so hulle wou haar graag ondersteun,” het Tanya vertel.


LEES OOK: ExED Private School welcomes learners and teachers back for the new year


Carli se gunsteling katedraal was die St Matthias Katedraal in Boedapest.

“Dit het baie meer van die beelde van Jesus gehad, veral waar Hy die kruis gedra het. Dit was vir my baie mooi,” het sy vertel.

Tydens die toer het die koorlede kans gehad om in die buitelug te gaan ysskaats in Boedapest, die Slovak

Filharmoniese Orkes te gaan sien, en die binnehof van die Buda Kasteel te aanskou. Die koor het gebruik gemaak van publieke vervoer, wat ondergrondse sneltreine ingesluit het.

Nog ‘n groot hoogtepunt vir Carli was wel nie die katedrale, of die kos, of die ysskaats nie, maar toe sy die geleentheid gekry het om in ‘n model-Y Tesla voertuig te sit, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button