Local newsNews

Inwoner help ouers met skryfbehoeftes

Sy het opgemerk dat mense ook vra vir gebruikte skryfbehoeftes het sy haar aksie uitgebrei om ook op dié gebied te help.

Die begin van die nuwe skooljaar lê voor die deur en dit is dié tyd van die jaar wanneer ouers hul hande diep in hul sakke moet steek om die nodige aan te skaf.

‘n 38-Jarige inwoner van Minnebron, wat weet hoe duur dit kan raak wanneer dit kom by die aanskaffing van skoolklere en veral skryfbenodighede, is tans besig om ouers in nood te help.

Charlene Peens het verlede jaar reeds ‘n WhatsAppgroep gestig waar mense tweedehandse skoolklere kan koop, verkoop, skenk of ruil.

“Ek het dit gedoen nadat ek besef het daar is baie mense wat sukkel om kop bo water te hou wanneer dit by skooldrag en skryfbehoeftes kom,” het sy gesê.

Nadat sy begin opmerk het dat mense ook vra vir gebruikte skryfbehoeftes het sy haar aksie uitgebrei om ook op dié gebied te help.

“Ek het toe begin wonder hoe ek die mense kan help want nie almal het altyd geld vir nuwe items nie.

“Ook het mense nie altyd geld om ekstra goed te koop vir diegene wat dit nie kan bekostig nie. Dit is dus beter om eerder te vra vir die tweedehandse skryfbehoeftes, wat ek dan herverpak om iemand anders se nood te verlig,” verduidelik Charlene.

Sy het tot dusvêr sowat 23 ouers, wat tesame 36 kinders het, gehelp met skryfbehoeftes.

“Ek wil bitter graag meer mense help. Al gee ek net ‘n pakkie inkleurpotlode, help ek daardie persoon met ‘n besparing van ongeveer R30 of R40 en dit plaas minder stres op die ouer.”

Charlene ontvang enige tweedehandse skryfbehoeftes soos penne, potlode, uitveërs, liniale, skerpmakers, boeke, pennesakkies, gom, verf, klei en skêre.

“Ek is self ‘n ouer van twee skoolgaande tieners en weet maar al te goed hoe belangrik dit vir kinders is om nie uit te voel weens die feit dat hul ouers nie alles wat nodig is kan bekostig nie.”

Persone wat belangstel om skenkings te maak kan haar kontak by 071 421 5683.


Related Articles

Back to top button